Arnoldus Pannevis (1838 - 1884)

‹ Back to Pannevis surname

Is your surname Pannevis?

Research the Pannevis family

Arnoldus Pannevis's Geni Profile

Records for Arnoldus Pannevis

119,345 Records

Share your family tree and photos with the people you know and love

  • Build your family tree online
  • Share photos and videos
  • Smart Matching™ technology
  • Free!

Share

Birthplace: Ouderkerk aan den IJssel, Ouderkerk, South Holland, The Netherlands
Death: Died in Paarl, Breede River DC, Western Cape, South Africa
Managed by: Louis Scholtz, j4
Last Updated:

About Arnoldus Pannevis

Arnoldus Pannevis (Ouderkerk aan den IJssel 1838 - Paarl 1884)

Pannevis se groot betekenis lê in die aandeel wat hy geneem het in die Afrikaanse Beweging, en tog het hy ook gedigte in Afrikaans geskryf.

Arnoldus Pannevis is op 16 Februarie 1838 in Ouderkerk, Holland, uit 'n deftige burgerfamilie gebore. Sy vader was 'n mediese dokter en ook hy het in die medisyne gaan studeer aan die ‘School voor Rijks Zeemacht,’ en op 1 Augustus 1859 is hy aangestel tot ‘Officier van Gezondheid der 3de klasse bij de Koninklijke Nederlandsche Zeemacht.’ Hy het dit nie lank volgehou as skeepsdokter nie, want op 31 Oktober 1861 het hy eervol ontslag gekry ‘op grond dat zijn ziels-toestand hem ongeschikt maakt, om in zijne betrekking aan boord van Schepen te dienen.’ Nou het hy in die lettere gaan studeer en op 13 Januarie 1864 sy kandidaatseksamen afgelê. Hy het 'n deeglike kennis van die klassieke tale gehad en was verder goed bekend met die vernaamste Europese tale. Reeds as sestienjarige seun het hy plan gemaak om na Suid-Afrika te kom toe hy gehoor het van die gebeurtenisse in die Vrystaat tussen 1848 en 1854. Hy kon dit nie veel dat die Hollandse nasionaliteit daar so verdring is nie. ‘Hij was trouwens zijn leven lang afkerig van zulke Afrikaners, die zich hun afkomst en moedertaal schaamden.’*)

Op 11 Julie 1866 het hy in Kaapstad geland. In 'n losieshuis aan die strand sou hy 'n soort van Nederlands gehoor het wat tog nie Nederlands is nie, maar vloeiend klink en doeltreffend werk. Later het hy in die Zuid-Afrikaansche Tijdschrift op grappige wyse vertel hoe hy die Afrikaanssprekendes dikwels verkeerd verstaan het. Van die Kaap is hy na die Paarl waar hy bevriend geraak het met ds G.W.A. van der Lingen. Hy is aangestel as leraar in die klassieke tale aan die Gymnasium, waar die latere ds S.J. du Toit een van sy leerlinge was. Op hom het hy in baie opsigte groot invloed uitgeoefen en o.m. sy oë geopen vir die bruikbaarheid en bestaansregverdiging van Afrikaans. Hy het Afrikaans bekleed met die volle waardigheid van 'n selfstandige taal, 'n splinternuwe taal, wat onder besondere omstandighede uit die oorspronklike vorm ontwikkel het. So oortuig was hy in sy opvattings oor die bestaansreg van Afrikaans, dat hy in privaat gesprekke en ook in sy klasse hierdie opinies gelug het, baie persone oortuig het en in sy beskouings gaandeweg meer helderleid verkry het. In sy 71 Theses beskou ds Du Toit sy leermeester as waarskynlik die grootste taalkundige wat Suid-Afrika gehad het (1891). Dieselfde bewering herhaal hy in die inleiding tot sy studie Afrikaanse Taalskat in Ons Taal.

Maar Pannevis was nie juis net gangmaker vir nuwe en juistere opvattings oor Afrikaans as taal nie, hy het ook gegloei van liefde vir sy God en die Bybelwoord. Daarom wou hy graag die Bybel in Afrikaans vertaal hê, en het hom sterk daarvoor beywer. Toe sy brief in De Zuid-Afrikaan van 7 Sept. 1872 nie die gewenste uitwerking gehad het nie, het hy in 1874 aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap geskryf en dit het indirek gelei tot die stigting van die G.R.A. Pannevis was egter te veel idealis en te min praktikus om die groot leier van sy lieflingsaak te word. Hy was bowendien 'n senuweelyer en kon hom nie altyd met die nodige kalme besadigheid en durende volharding aan 'n saak wy nie. Von Wielligh vertel ons 'n paar interessante gevalle in dié opsig. Een dag stuur hy in die middel van 'n werk die klas huis-toe omdat hy 'n blink ster in die solder sien skitter het; 'n steil opdraande loop hy agterstevoor uit, want dan kan hy kammig makliker vorentoe gaan; hy wil van Kaapstad na Kaïro te voet loop, maar weier om soms na 'n vriend te voet te gaan kuier, want die woon 'n paar honderd tree weg, en, sê hy, ‘wil je hebben dat ik daarheen moet vliegen? Je weet ik ben een slechte looper!’ Een nag sou hy ook in sy kamer 'n gedaanteverskyning van sy broer wat in Java oorlede is, gesien het, en dié voorval het 'n baie nadelige uitwerking op sy gesondheid gehad. Dit is nodig om hierdie omstandigheid van sy swak senuweegestel en rare doen in die oog te hou, want dit wil voorkom asof die onbestendigheid en fanatieke oorywer verantwoordelik is vir die agteruitstelling van Pannevis deur sommige Genootskappers; hulle was bevrees vir sy oorywer. Eers op die derde vergadering van die G.R.A. het hy as lid toegetree en op 15 September 1877 het hy weer bedank. Sy laaste lewensjare het hy stil op 'n boereplaas deurgebring as onderwyser. Op 14 Augustus 1884 is hy oorlede en lê in ds Van der Lingen se grafkelder in die Paarl begrawe.

Hoewel so'n sterk voorstander van Afrikaans, was Pannevis se meeste geskrifte in Nederlands. Hy was 'n getroue medewerker van die Z.A. Tijdschrift. Onder sy nagelate papiere is daar 'n groot aantal opstelle en gedigte, maar byna almal in Nederlands. Oor De Schotsche Volksdichter Burns het hy in April 1867 'n skitterende lesing in die Paarl gehou.ﰀ) Vir Bilderdyk het hy 'n hartstogtelike bewondering gekoester, soos die groot gedeeltes wat hy uit Bilderdyk oorgeskryf het, duidelik toon. ‘Een teder Christen, die zijn God in alle ootmoedigheid en nederigheid kinderlik diende,’ het Hoogenhout van sy ‘dierbaarste vriend en broeder’ verklaar. Die waarheid hiervan blyk maar te duidelik as ons sy nagelate Nederlandse, maar ook sy Afrikaanse gedigte deurlees. Hy was diep ontroerd deur die besef van sy sonde, en daarom klae hy sy nood by God in Vertrou op di Heer. Treffend is die gebedstoon:

‘O Heer, al myn ellend

En nood is U bekend.

Geen mensch wat dit verstaat, En hulp geef vir die kwaad. Nee! U alleen, o Heer!

Ek leg dit aan uw voete neer! By U alleen is raad.’

Vroeër het hy in sy verdriet en stryd op mensehulp vertrou, maar dit het hom nog dieper in die sonde gesleep. Die enigste hulp is by God self:

‘As jy Hem so gedenk,

Sal Hy jou eer en vreugde skenk

En tot geluk volmaak.’

In sommige van sy godsdienstige gedigte is hy sterk didakties, soos Die Vyfde Gebod (P., Junie 1876):

‘Die welvaart van die vaderland, Gaat hand in hand

Met eerbied voor voorgeslag; Als hul die voorgeslag onteer,

Wat hul perbeer,

Geen se'en is daarop te wag.

En hul sal merke aan die slot,

Die Woord van God

Blyf eeuwig waar en hou syn krag.’

Ook in Groothyd wil hy leer. Eers vertel hy hoe die reisiger, na hy verskillende Europese stede besoek het, Kaapstad 'n klein plekkie noem. Maar as hy van Stellenbosch na Kaapstad gaan, praat hy glad andersom.

‘Denk na nou, mense: jul sal sien, Die grootheid hier op aard

Is enkel een betreklik ding,

En op homself niks waard.

Een is maar groot, en dit is God Hy slegts het die bestaan,

So werp jou en jou afgod neer, En bid alleen Hem aan!’

Uit die Frans van La Fontaine het Pannevis ook twee didaktiese gedigte vertaal: Die Gebarste Parra en Die Kraai en die Jakkals. Die padda was jaloers op 'n os en wou hom opblaas totdat hy net so groot was, maar uiteindelik bars hy. Nou die toepassing:

‘In onse tyd is daar so baing mense,

Wat groote staat en pragtig lewe wense,

Dit raak hul nie, as hul tog maar hul sin kryg; Mar hul's gedaan, eer hul regt die begin kryg.’

Pannevis het 'n sterkontwikkelde nasionaliteitsgevoel gehad, en ons weet reeds hoe 'n vurige voorvegter hy vir Afrikaans was. Engels het hy as die grootste vyand van Afrikaans beskou, en hy het die verengelste Afrikaners diep in sy siel verag. Fel en bitter is hy in Rasende Afgodery (van Engels) (P., 15 April 1876), wat geskryf is in

‘Afrikaanse Trippelmaat’:

‘Ons leef in die da'e van taalraserny,

En daarvan kom Afrika oek nie meer vry,

Mar van die elend het dit bitter te ly,

Hoor hier die geskré van die Engelse gekke:

Ver Engels moet all' ander tale mar trekke,

Hul seg, hulle taal moet die wêreld o'er dekke

En waar hul die mag het, moet Engels die baas,

Die landstaal kry daadlik die agterste plaas,

En dood moet hij gaan by die Engels geraas;

En wie hom nog ophou, die is nes een stomme,

Hij mag in geen raad of bediening meer komme,

Een vreemdling is hy in syn erfei'endomme.

Die Engelse taal wort als afgod vereer,

Die reg wort vertrap waar die afgod regeer,

Maar eens sal syn end kom, WANT GOD BLYF DIE HEER!’

Pannevis en Hoogenhout het 'n hele paar gedigte saam geskryf, maar volgens 'n verklaring van Hoogenhout het Pannevis die grootste aandeel gehad in die ballade Helena en Eduard (P., 15 Mei 1876). Die gesmeerde digtrant is egter sonder twyfel Hoogenhout s'n.

Die verhaal is heel eenvoudig, maar werk tog geleidelik op na 'n klimaks. Helena en Eduard is verloof, en sodra hy terugkeer van sy tog, sal hulle trou. Met moeite neem hulle afskeid van mekaar toe die hoenders kraai, want

‘Die wa'ens staat al voor die deur; Die pêrde graaf die grond;

Die jong sit op die bak en wag; Die daglig skyn al rond.’

Die jare het verbygegaan, maar Lenie hoor niks van Eduard nie. Een aand het sy vol droefheid by 'n fontein gaan sit toe daar 'n man by haar kom. Uitstekend is die wyse waarop die digters haar angs suggereer, en eg-vroulik probeer Lenie die man huis-toe dwing. Maar hy vra haar uit na die oorsaak van haar leed, en dan vertel hy haar dat Eduard gevang is, maar dat hy ontsnap het. Toe hoor hy dat Lenie getroud is en

‘nou swerf hy o'eral rond.’

‘Sy huil en seg: “Dis lastertaal! Ons liewe Heer die weet,

Ek was an Eduard getrou,

En sal hom nooit vergeet!”’....

‘“Goddank!” so roep hy, aangedaan, “Ek is jou Eduard!

Myn Lenie! God het ons behoed!” Hy druk haar an syn hart.’

Bron : Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde, P.J. Nienaber en G.S. Nienaber

Aanvullende Bronne

  1. Geboortenakte - https://familysearch.org/pal:/MM9.3.1/TH-266-13195-87656-83?cc=1576401&wc=9CHN-L29:114078901,108182901
view all

Arnoldus Pannevis's Timeline

1838
February 16, 1838
Ouderkerk, South Holland, The Netherlands
1884
August 14, 1884
Age 46
Paarl, Breede River DC, Western Cape, South Africa
????
Paarl, Breede River DC, Western Cape, South Africa