Maria Elizabeth Rothmann (1875 - 1975)

‹ Back to Rothmann surname

Is your surname Rothmann?

Research the Rothmann family

Maria Elizabeth Rothmann's Geni Profile

Share your family tree and photos with the people you know and love

  • Build your family tree online
  • Share photos and videos
  • Smart Matching™ technology
  • Free!

Share

Related Projects

Nicknames: "M.E.R."
Birthplace: Swellendam, Overberg DC, Western Cape, South Africa
Death: Died in Swellendam, Overberg DC, Western Cape, South Africa
Managed by: Daniel Jacobus Botes, g2h3
Last Updated:

About Maria Elizabeth Rothmann

Maria Elizabeth Rothmann (M.E.R.) (* 28 Augustus 1875, Swellendam – † 7 September 1975, Swellendam) was ’n Afrikaanse skrywer, en ’n medestigter van die Voortrekkerbeweging. Haar grootste bydrae tot die Afrikaanse letterkunde is ’n eties-didaktiese, kultuurhistoriese blik op ’n vervloë Afrikaanse samenleving.

Biografie

Sy is op Swellendam gebore, in die eertydse Kaapprovinsie, as die jongste in die gesin van sewe kinders van Gert Rothmann, ’n wamaker, en sy vrou, Annie Lindenberg, van Worcester. M.E.R. het aanvanklik onderwys aan die Christ Church Mission School op Swellendam ontvang, waarna sy op tienjarige leeftyd na die meisieskool op dieselfde dorp is waar sy die Skoolhoëreksamen met lof afgelê het. Hierna is sy na die Rynse Instituut op Stellenbosch waar sy die Matrikulasie-eksamen met lof in 1893 geslaag het en ’n O2-onderwysdiploma verwerf het. Hierna het sy met twee studiebeurse, die Queen’s Scholarship van die Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad en die Webb Scholarship vir geskiedenis, as een van die eerste Suid-Afrikaanse vroue om aan ’n universiteit te studeer, ingeskryf vir voortraasde studie deur die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop, en die B.A.-graad in 1896 met lof in die letterkunde en filosofie behaal. Hierna het sy onderwys op Swellendam gegee maar reeds die volgende jaar na Johannesburg vertrek waar haar broer Frits by ’n myn gewerk en haar suster Annie onderwys gegee het. Tydens haar verblyf aldaar het sy persoonlik kennis gemaak met pres. S.J.P. Kruger.

Tweede Vryheidsoorlog

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in Oktober 1899 het Frits op kommando gegaan en sy dagboek uit daardie tyd is later as Oorlogsdagboek (1947), met ’n belangrike kultuurhistoriese inleiding tot die 19de-eeuse leefwyse van die, deur M.E.R. gepubliseer. Oorlogsomstandighede het M.E.R. en haar suster geding om in 1900 na Swellendam terug te keer, maar vanweë hul anti-Britse reputasie kon hulle nie daarin slaag om ’n aanstelling by ’n staatskool te kry nie. In 1901 het M.E.R. ’n pos aan die privaat skool van Herbert Charles Gordon Oakshott op Grahamstad aanvaar. Op 18 September 1902 tree sy met Oakshott in die huwelik. Sy het egter in 1905 na Swellendam terugkeer, sonder Gordon, en is op 4 Julie 1911 van hom geskei.

Terug op Swellendam

In 1907 het M.E.R. en haar suster Annie ’n Afrikaanse privaat skool met drie-en-twintig leerlinge op Swellendam begin en binne drie jaar het twee derdes van al die skoliere van daardie streek onderwys aan hul inrigting ontvang. In 1910 is die skool egter op aandrang van sir Frederic de Waal, die destydse Administrateur van Kaapland, met personeel en al en op die voorwaardes van die Rothmanns, by die dorpskool ingelyf waar M.E.R. vervolgens sewe jaar lank onderwys gegee het.

Skryfster en ander werk

In 1917 het M.E.R. by haar broer Frits op sy Laeveldse plaas in die Barbertonse distrik aangesluit waar sy haar op skryfwerk toegelê het: artikels vir Die Brandwag en Kinders van die Voortrek, ’n jeugboek gebaseer op eerstehandse inligting oor die Groot Trek wat Frits van bejaarde Trekkers gekry het, het die lig gesien. Die verhaal ‘Goedgeluk’, opgeneem in haar bundel Onweershoogte met haar Laeveldse ervaring as agtergrond, is in 1959 in Nederland uitgegee, met ’n voorwoord van Jan Greshoff.

In 1919 het M.E.R. ’n jaar lank op Ermelo onderwys gegee waarna sy na Pretoria verhuis en van 1920 tot 1922 in die redaksie van Die Boerevrou onder Mabel Malherbe gedien het. Hier het sy kennis gemaak met Eugène Marais en L.W. Hiemstra. Op aanbeveling van laasgenoemde is sy in Mei 1922 as die eerste redaktrise van ’n vroueblad by Die Burger in Kaapstad aangestel – ’n betrekking wat sy tot 1928 beklee het. Saam met Ida Theron was sy ook verantwoordelik vir Die Kleinspan, ’n byvoegsel vir kinders by Die Huisgenoot. Hierin het van haar verhale vir kinders wat later in boekvorm uitgegee is, verskyn, onder meer Die Kammalanders en Karlien en Kandas. Tydens haar verbintenis met Die Kleinspan en kort daarna, het die volgende kinderboeke van haar hand verskyn: Die Sondagskind en Hansie en die Bessiekinders, albei vanuit Duitse verhale verwerk; Vanmelewe, stories van die voorouders; Die oorwinnaar, verhale van president Steyn; Stoute bengel: ’n verhaal uit die lewe; Die Sokkaboek, stories van ’n skaaphond en Sokka se plaas.

In die jare by Die Burger was M.E.R. en haar vroueblad ’n rigtinggewende invloed onder Afrikanervroue. Dit was die jare van die vlagstryd, vrouestemreg, taalhandhawing, die dramatiese verkiesing van 1924, die besoek van die Prins van Wallis, die sterk opkoms van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV) wat maatskaplike probleme soos volksgesondheid, opvoeding en voeding begin aanpak het, en die koms van gewaagde modes soos ‘flesh-coloured’ kouse en die lipstiffie. Sy het nader kennis gemaak met onder andere dr. D.F. Malan (destyds redakteur van Die Burger, F.J.L. Rompel, W.A. Hofmeyr, C.J. Langenhoven, Sarah Goldblatt, H.A. Fagan en sy vrou Queenie, dr. Petronella van Heerden en dr. A.L. Geyer en sy vrou Anna.

In 1928 is M.E.R. as organiserende sekretaresse van die ACVV aangestel. Sy het vir haar ’n huisie met die naam Kom Nader op Swellendam laat bou waar sy van haar werk verrig het. Tot haar uittrede in 1938 het sy ’n reuse-aandeel gehad in die ACVV se werk om distriksverplegingsdienste vir die platteland, kraaminrigtings, biblioteekdienste en akademiese opleiding vir maatskaplike werkers tot stand te bring. In 1928 is sy (as enigste vrou) in die Carnegie-kommissie van Ondersoek van die Armblankevraagstuk aangestel. Dit het haar op landwye reise geneem en by onderhoude met moeders en dogters in 462 gesinne betrek. Haar verslag hieroor, Die moeder en dogter in die armgesin, opgeneem in die vyfdelige Carnegie-verslag, is ’n deeglike wetenskaplike en insiggewende stuk.

M.E.R. was ook lid van die voortsettingskomitee van die Volkskongres van 1934 en het op dié wyse ’n belangrike aandeel gehad aan die beplanning van die land se welsynsdienste en die totstandkoming van die Departement van Volkswelsyn.

In 1938 het sy haar betrekking by die ACVV neergelê. Sy het van 1928 tot 1948 in die hoofbestuur van dié vereniging gedien en op versoek het sy die geskiedenis en werk van die ACVV in twee werkies, Ons saamreis en Ons voortgang te boek gestel. In 1966 het sy ’n Carnegie-studiebeurs ontvang waarmee sy na die VSA gereis en navorsing gedoen het oor toestande onder arm mense in Kentucky. In haar verslag hieroor het sy ’n interessante vergelyking tussen hierdie Amerikaanse boswerkersgemeenskap en dié van Knysna getrek.

M.E.R. het aktief aan die kulturele en politieke lewe deelgeneem. Sy het ’n belangrike rol gespeel in die onderhandelinge wat tot die stigting van die Voortrekkerbeweging in 1931 gelei het. Sy was ’n aktiewe lid van die Nasionale Party van Kaapland en is in 1933 tydens die Partykongres in Port Elizabeth as ondervoorsitter van die hoofbestuur verkies – ’n amp waarin sy net ses maande gedien het. Sy was ’n entoesiastiese ondersteuner van die Ossewa-Brandwag en het end-uit lid van dié organisasie gebly.

Uittrede

Na haar uittrede het talle koerant- en tydskrifartikels van M.E.R. verskyn en het sy van haar beste skryfwerk gelewer. In 1939 het Tant Alie van Transvaal: die dagboek van Alie Bezuidenhout verskyn wat sy uit die indertydse verafrikaanse Nederlands vertaal het, gevolg deur haar twee romans, Na vaste gange en Die eindelose waagstuk. Twee bundels vertellings: Drie vertellings en Die gewers is gepubliseer asook drie bundels essays, sketse en vertellings: Uit en tuis, So is onse maniere en Vroue wat Jesus geken het. Sy was ook medewerker aan twee bundels: Kwartet en Die dammetjie. Verder het sy opgetree as samesteller van die bundel met Anna Geyer se briewe uit Londen aan haar dogter, wat in 1965 met ’n voorwoord deur haar, as Briewe uit Highveld gepubliseer is. Saam met haar dogter, Anna Rothmann, was sy ook verantwoordelik vir die werkie Die Drostdy op Swellendam en in 1972 is haar outobiografie My beskeie deel gepubliseer.

Tien dae na haar honderdste verjaarsdag, sterf sy in haar huis Kom Nader op Swellendam. Sy is op Swellendam begrawe.

Pryse en toekennings

  • Sy ontvang die Hertzogprys in 1953 vir haar oeuvre van prosa-werk.
  • In 1961 ontvang sy die Scheepersprys vir Jeugliteratuur vir Die tweeling trek saam (’n verwerking van Kinders van die Voortrek)
  • In 1965 het die FAK die erepenning vir volksdans aan haar toegeken.
  • In 1966 is die ACVV se eerste Anna Geyer-toekenning vir gemeenskapsdiens aan haar gemaak.
  • In 1970 ontvang sy die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur vir Karlien en Kandas.
  • Sy ontvang drie eredoktorsgrade, in maatskaplike werk van die Universiteit Stellenbosch in 1950, in die lettere van die Universiteit van Kaapstad in 1951 en in lettere van die Universiteit van Suid-Afrika in 1973.

Bibliografie

  • Kinders van die Voortrek — 1920.
  • Die Sokkaboek: stories van ’n skaaphond — 1926.
  • Vanmelewe: stories van die voorouers — 1926.
  • Onweershoogte en ander verhale — 1927.
  • Die kammalanders — 1928.
  • Die oorwinnaar: verhale van President Steyn; bymekaargemaak deur M.E.R. — 1929.
  • Jong dae: ’n meisies-storie — 1933.
  • Sokka se plaas — 1933.
  • Na vaste gange — 1944.
  • Drie vertellings — 1944.
  • Uit en tuis — 1946.
  • Stoute bengel: ’n verhaal uit die lewe — 1947.
  • Die eindelose waagstuk — 1948.
  • Die gewers — 1950.
  • Goedgeluk — 1958.
  • The drostdy at Swellendam (met A. Rothmann) — 1960.
  • Die tweeling trek saam — 1960.
  • Kom nader; bloemlesing uit die werk van M.E.R. — 1965.
  • So is onse maniere — 1965.
  • Vroue wat Jesus geken het — 1965.
  • Karlien en Kandas — 1969.
  • My beskeie deel; ’n outobiografiese vertelling — 1972.
  • Familiegesprek: briewe aan haar dogter — 1976.
  • Van naby gesien: ’n keur uit die kortkuns van M.E.R. (saamgestel deur Elize Botha) — 1976.
  • ’n Kosbare erfenis: briewe 1916-1975 (saamgestel deur Alba Bouwer, Anna Rothmann en Rykie van Reenen — 1977.
  • M.E.R.-versebundel (saamgestel deur Carl Lohann, musiek deur Awie van Wyk, illustrasies deur Ina Pfeiffer) — 1985.

Bronne:

  1. [http://af.wikipedia.org/wiki/M.E.R. Wikipedia]
  2. Familia Jaargang X 1973 No. 2
view all

Maria Elizabeth Rothmann's Timeline

1875
August 28, 1875
Swellendam, Overberg DC, Western Cape, South Africa
1975
September 7, 1975
Age 100
Swellendam, Overberg DC, Western Cape, South Africa
????
Swellendam, Overberg DC, Western Cape, South Africa