@ Willem Jacobus Prinsloo. Volgens JA Heese in sy boek Slagtersnek en sy mense dui hy daarop dat Willem (die vader van Willem Jacubus wat een van die rebelle was) "reeds jare tevore tydens 'n olifantjag ongeluk oorlede is".
Hy gebruik as bronverwysing VRV 46 p 110. Hierdie is egter die beskrywing van die dood van Willem "den Oude" - sy Pa in 1781.
Heese is egter wel korrek dat hy wel ook reeds oorlede was maar die oorsaak was dalk iets anders, tensy hy ook (soos sy vader) op 'n olifantjag omgekom het?
Hierbo word sy sterfdatum aangegee as 1824, Dit kan nie korrek wees nie aangesien daar tydens die verhoor baie duidelik getuienis gelewer is deur Andries (Adriaan Jacobus) van Dijk (bl 339 van HVC Leibrandt) dat hy deur Hendrik Kasteel (veroordeelde nr 1) na sy inhegtenisname met n boodskap gestuur is na sy "skoonmoeder, die weduwee van Willem Prinsloo wat gewoon het op plek algemeen bekend as Kleine Plaas".
In die getuienis van Theunis de Klerk (veroordeelde nr 4) op bl 268 noem hy dat hy saam met twee ander na Martha Prinsloo die skoonmoeder van Hendrik Kasteel gegaan het. - geen melding van die skoonvader nie...
Dit is ook beduidend dat daar ook andersins hoegenaamd geen melding van hom is te enige tyd in die verhoor nie, ten spyte daarvan dat sy tweede oudste seun en twee van sy skoonseuns by die rebellie betrokke was.
Daar sal dus dieper gedelf moet word om te sien wanneer en waaraan hy oorlede is.
Verder weet ek ook dat een van sy aanvanklike plase Muisvlakte was. In die verhoor kom dit egter na vore dat Pieter Lourens Erasmus, (een van sy kleinseuns) daar woon, ook sonder enige vermelding van sy oupa willem Jacobus.