Genealogiese peanut-etery

Started by Theo Verwey on Wednesday, July 14, 2010
Problem with this page?

Participants:

7/14/2010 at 1:50 PM

Genealogiese peanut-etery
Deur: Rina Greeff

“Genugtig!” sug ek dit uit, “Lyk my op die ou end gaan ek en jy ook nog familie wees.”
Hy, dis nou my anderhelfte wat mý gekies het, kyk so uit die hoogte na my: “Gmf, die hardhorendheid kom beslis van jóú kant van die familie af…” en toe slaan dié soms gerieflike afwyking heeltemal toe. Horende doof gaan ek ewe voortvarend voort: ”Hierdie ondertrouery van jóú mense so vier, vyf geslagte terug kan dalk baie dinge van jóú verduidelik, hoor!” Ons wil-wil vir mekaar begin gluur: familie-sake is mos ernstige sake! Julle weet mos dis soos daardie gesegde van “One for all and all for one”, of dalk net eerder “Vat aan my, en mý familie kom doX&X&Xer jou op!”

Die genealogie-gogga het my gebyt en dis baie erger as peanuts eet. Miskien het die feit dat ons eerste kleinseun of -dogter al ‘n volle 16mm lank in ons skoondogter se nou nog plat magie lê, iets daarmee te doen. ‘n Skielike passie om vir dié nasaatjie te kan dokumenteer vanwaar hy of sy kom, laat ‘n mens met ander oë na doopregisters, ou grafte en argiewe kyk. Bejaardes se vertellings van húlle oupas en ouma se grille, nukke en dinge hou ‘n mens vasgevang: dis stories wat verby is; dit sal nooit weer gehoor word as dit nie neergepen word nie.

Foto’s van al die grootjies se grootjies met hulle strak gesigte word noukeurige gesorteer, gedokumenteer en geliaseer… en dié stamboom-navorsing raak amper soos ‘n doolhof-nagmerrie as jy nie volgens ‘n spesifieke stelsel navors nie. Daar is uitstekende programme gratis op die internet beskikbaar wat jy kan aflaai vir eie gebruik en waarop ‘n mens dan jou familie-data kan bewaar. En daar is ook net so baie webblaaie waar daar al baie families is wat hulle inligting gratis met andere deel.

Is dit belangrik om te weet vanwaar en van wie jý afstam? Jy is tog vandag wie jy is… of dalk nie? Dalk is daardie een of ander steep ietsie waarmee Oupa ook gesukkel het…! Begin tog vandag jou eie stamboom navors, net vir jou en jou gesin, dalk net tot oupa en ouma, óf net tot oupagrootjie en oumagrootjie… óf dalk net tot….! Erger as peanuts eet, ek belowe jou dit!

Create a free account or login to participate in this discussion