

Wanneer daar met die verkondiging van die evangelie op die eiland begin is, is onduidelik, hoewel sendelinge reeds van vroeg daar diens gedoen het. Na die Hervorming, en waarskynlik kort na die inname van Den Briel in 1572, het die eerste twee predikante – Adriaan Allardi JANSSEN en Adrianus JOHANNIS – na Goedereede gekom, vanwaar hulle ook die inwoners van Ouddorp bedien het. Daar was egter ontevredenheid oor die mate van bediening wat in Ouddorp ontvang is en in 1592 word ‘n versoek tot die Klassis van Briel gerig dat Ouddorp as ‘n aparte gemeente gestig en ‘n eie predikant toegeken word. Die Klassis kon egter nie tot ‘n besluit kom nie.
Teen 1594 wou die Ouddorpers nie langer wag en begin rondkyk vir ‘n predikant om te beroep. Hul aanvanklike besluit was om Ds YSBRANDUS van Bommenede te beroep, maar hiervoor wou die Klassis nie toestemming gee nie. Hierna val die gemeentelike oog op ’n onderwyser van Poortvliet, Jacobus CORNET. Na ‘n proefpreek op voor die Klassis oor Lukas 1:9, word CORNET uitgenooi om na Ouddorp te kom – sodat hy die te-stigte-gemeente kon ondersoek (en hulle hom!) Dit moes ‘n voorspoedige besoek gewees het, want toestemming word deur die Klassis verleen en in 1594 verkry Ouddorp gemeentestatus. CORNET word in Mei 1595 as eerste predikant van die gemeente Ouddorp bevestig.
Soos genoem was stamvader Johannes Pretorius se vader Wessel predikant in Ouddorp, en wel die sesde predikant wat na die Reformasie hier aangestel is.
Die Notuleboek van die Hervormde Kerk se Klassis Briele lewer ‘n paar interessanthede op. Op 3 April 1639 tydens ‘n vergadering gehou te Heenvliet, versoek twee ouderlinge van Ouddorp toestemming om Ds Wessel Praetorius na Ouddorp te beroep. Hierdie versoek is klaarblyklik toegestaan, want op 28 Junie 1639 lewer Wessel ‘n “proefpreek” oor Romeine 8:1 tydens ‘n klassisvergadering te Nieuwe-Tonge, ter vervulling van die vereistes sy finale teologiese eksamen. Die beroep word uitgereik en in laat-1639 aanvaar. Vir ongeveer veertien jaar bedien Wessel hierdie gemeente voor hy in 1653 ‘n beroep na Emmerik aanvaar. Gedurende hierdie tydperk het hy onder andere ook as voorsitter van die klassis opgetree. In een van die notuleboeke gedateer 26 September 1651 verskyn sy handtekening as volg:
Die jong predikant tree op 16 Junie 1641 te Haarlem in die huwelik met Josyntje Claesdogter van Egmont. Die inskrywing in die Haarlemse huweliksregister lui as volg [8]:
“Wesselius Pretorius van Leiden - predikant tot Ouddorp en Josyntgen Claesdr. van Egmont van Leiden woon aldaer - sijn op attestatie van Ouddorp en de Leiden alhier getrouwd den 18e Juni 1641”.
Johannes, die oudste seun, is hier in Ouddorp in die pastorie gebore. Op 26 Oktober 1642 word Johannes deur sy vader gedoop. Die inskrywing in die doopregister lees as volg [9]:
“Den 26 October (1642)
Van my gedoopt myn eerstgeboren soon, en hebbe die genaemt Joannes. Getuigen sijn geweest mijn vader Barent Schout, mij swager Laurentius Nicolay van Egmont en meutie Geertruijt Reiniersdr. huisvrouwe van Cornelius Low” [Cornelis Louritz van Egmont]
Hierbo is genoem van die kerkklok wat erg beskadig is en in 1642 oorgegiet is. Johannes Burgerhuys het die werk aan die klok verrig, en die inskripsie daarop lees:
Soli Deo Gloria
Johannes Burgerhuis me fecit
Anno Domini 1642
Deur Koud en Breuk onnut gemaeckt
Door’t Vier en Lief’d aan stem geraeckt
T’Ouddorp in Westvoorn
Volgens oorlewering is hierdie klok in gebruik geneem op die dag van Johannes se doop.
Bron: Colin Pretorius http://pretoriusfamilie.info/ouddorp.php