Jacques Cronjé, die SA skole-agtsteman, wys hoe lyk 'n paar van die sketse wat hy al oor diere en voëls gemaak het. By hom is sy trotse pa, Org, wat vir die Blou Bulle en Griekwas as slot uitgedraf het.
Wilhelm de Swardt
Jacques Cronjé is hard, kliphard. Dit is niks snaaks om spelers te sien wegspat wanneer hy met die rugbybal in die een hand of onder die arm wegbars nie.
Dit is juis met dié stormramlopies in die Blou Bul-trui waarmee die agtsteman die aandag van die Suid-Afrikaanse skolekeurders by die Cravenweek vir hoërskole getrek het. Wannneer dit by verdediging kom, het hy ook min ontsag vir sy teenstanders. Geen wonder dat hy ingesluit is in die nasionale skolespan nie.
Cronjé, wat ook die kaptein van die HTS John Vorster se eerste span is, is die tweede Cronjé vanjaar wat vir 'n Suid-Afrikaanse rugbyspan gaan uitdraf. Sy broer, Geo, wat net ouer as hy is, was lid van die Suid-Afrikaanse o.21-span wat deurgedring het tot die eindronde van die internasionale o.21-toernooi.
Vir diegene wat wil weet, Geo speel slot. Die feit dat hy in nommer 14-rugbystewels op die veld draf, is duidelik bewys dat hy een van die groot manne op die veld is.
Die Cronjé-broers se betrokkenheid by rugby het nie nou die dag begin nie. Dit is pa Org, wat in 1975 as 't ware die deure van die rugbyfabriek geopen het toe hy as slot vir die destydse Noord-Transvaal uitgedraf het. Ná drie wedstryde vir die Blou Bulle is Org Kimberley toe waar hy in omtrent 50 wedstryde vir Griekwas uitgedraf het.
Deesdae is sy rol egter beperk tot toeskouer. Selfs dit kan rof raak. Veral as jy vier seuns het wat almal rugby speel. Ja, Jacques en Geo se twee ouer broers, Johan (slot) en Werner (flank), speel óók rugby. Hulle draf vir Tukkies se spanne uit.
Pa Org erken ruiterlik dat dit maar moeilik gaan om altyd daar uit te kom waar sy seuns speel. Maar hy probeer.
Volgens hom verskil vandag se rugby hemelsbreed van die rugby wat hy in die sewentigs gespeel het. ``Jy kan dit amper nie vergelyk nie. Toe ek gespeel het, het die spel omtrent net uit lynstane en skrums bestaan. Vandag is daar soveel tweede en selfs derde fases.''
Jacques erken ruiterlik dat sy pa 'n groot rol in sy rugbyloopbaan speel. ``Ná 'n wedstryd redeneer ons lank oor wat op die veld gebeur het en beraam planne vir die volgende wedstryd,'' gesels Jacques oor sy pa se rol.
Terwyl hy praat val sy pa hom in die rede: ``My grootste doelwit is om Jacques te oortuig om minder op die rugbyveld rond te lê.''
``Ag pa,'' is al wat Jacques hierop antwoord.
Gevra of hy enige rolmodelle het, noem hy dadelik die naam van Bobby Skinstad.
``Ek dink Bobby is 'n puik agtsteman omdat hy goed is op die dekverdediging, prominent is in dryfbewegings, gou by die afbreekpunt is en gereeld balle by sy teenstanders afneem.''
Oor die kapteinskap sê hy die belangrikste vir hom is om sy span bymekaar te hou. Veral as dinge nie heeltemal volgens plan verloop nie. Saterdag is juis 'n groot toets vir sy leierskap wanneer die HTS John Vorster teen Zwartkop in die eindstryd om die Pretoria-Stadsbeker uitdraf.
Rugby is beslis nie die enigste prioriteit in dié groot agtsteman (1.94 m en 103 kg) se lewe nie. Hy is ook 'n ywerige student en sê reguit voordat hy 21 is hy 'n graad agter sy naam wil hê.
Cronjé beplan om aanstaande jaar dierkunde aan die Universiteit van Pretoria te studeer. Hy skilder en skets ook graag diere en voëls.
Bron: http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2000/07/18/2/17.html