Nicolaas Jacobus "Klasie" Vermaak

Is your surname Vermaak?

Research the Vermaak family

Nicolaas Jacobus "Klasie" Vermaak's Geni Profile

Share your family tree and photos with the people you know and love

  • Build your family tree online
  • Share photos and videos
  • Smart Matching™ technology
  • Free!

About Nicolaas Jacobus "Klasie" Vermaak

Nicolaas Jacobus Vermaak

(Oupa Klasie) is op 11 November 1812 in die omgewing van George gebore en hy is op 8 Julie 1813 op Uitenhage gedoop. 

Oupa Klasie sou onmiddelik na sy eerste huwelik in 1836 (met SUSANNA FRANCINA VAN VUUREN), as deelnemer aan die Groot Trek (wát ’n wittebroodsreis!) saam met van sy neefs uit die Kolonie na die binneland verhuis het om van die Engelse af weg te kom. Hy en sy jong bruid was egter net sowat ’n week op trek toe die weerlig haar in die omgewing van die teenswoordige Cradock doodslaan. Hy draai toe om en gaan begrawe haar naby Uitenhage. (Ek kon nog niks in die opgetekende geskiedenis oor hierdie voorval kry nie en sal bly wees as enige familielid kan help om dit aan te vul.) In Erasmus Smit se Dagboek is daar melding van ‘n ander Vermaak-tragedie tydens die Groot Trek : die wa van ‘n N.J.Vermaak is aan flarde geskiet, met lewensverlies, deurdat kinders met ‘n tonteldoos by die kruit op die wa gespeel het. Dit was egter nie dieselfde NJ wat hier ter sprake is nie. In ‘n vertelling deur Oom Salie Vermaak wat in 1964 deur Oom Rassie Vermaak op band opgeneem is verwys hy na die weerligslagoffer as ‘n nooi Schutte en voeg hy by dat sy en twee kinders op haar skoot voor ‘n venster in ‘n huis gedood is.)

Oupa Klasie se verwante trekgenote het voortgetrek, en ons vind hulle name weer in die geskiedenis by Dingaanstad en Bloedrivier. Daardie nageslag woon vandag nog in Natal, veral in die omgewing van Helpmekaar naby Dundee. ‘n Bekende plaas in daardie kontrei heet "Vermaakskraal".

NA PHILIPPOLIS Oupa Klasie trou toe weer op 1 September 1838 en wel met SUSANNA JOHANNA CATHERINA SMIT. (Sy was volgens oorlewering op ‘n manier verwant aan die Voortrekker-predikant Erasmus Smit, en aan Gerrit Maritz, die Voortrekkerleier, se vrou, maar ek weet nog nie presies hoe nie.) Hulle twee trek uiteindelik in 1839 binneland toe na die omgewing van die huidige Philippolis. Daar ruil hulle van Adam Kok, die Griekwa-kaptein, ‘n stuk grond vir ‘n wa en span osse, ‘n seeppot, ‘n vaatjie brandewyn en nog ‘n klompie losgoed. ‘n Deel van die grond wat oorspronklik deur daardie ruiling bekom is behoort tans, so het ek gehoor, aan die Kolvers, skoonseun van wyle premier John Vorster. Of hulle plaas Bokpost deel van Oupa Klasie se grond was, kon ek nog nie bevestig nie.

Gelukkig het die wakis, waarmee ons Vermaak-familie die binneland ingetrek het, nie deel van die ruilgoed gevorm nie. Daardie kis is uiteindelik aan Oupa Hendrik bemaak, en na hom aan sy seun, Klaas. Dit was daarna in besit van my pa, Hennie op Vereeniging en later Naboomspruit. Met hulle verhuising aan die einde van 2002 na Pretoria, is die verdere bewaring daarvan aan my toevertrou. Ek hoop om dit eendag aan my seun, Hendrik Pieter, na te laat.

Die wa-kis wat ons Vermaaks binneland toe gebring het

Ewenwel, op daardie plaas het Oupa Klasie ‘n vooruitstrewende perdeboer geword, al moes hy by geleentheid met die hulp van sy sambok aan die Griekwas, (hulle toordokter inkluis) gaan verduidelik dat hulle nie weer sy perde moet steel nie. Die toordokter het hom skynbaar vervloek met ‘n lang storie wat geeindig het met “Duusman, vannag dood jy!” Die anderdagmore toe hy gaan ondersoek instel het, was hy baie verbaas dat Oupa Klasie nog springlewendig was.

‘n Brief wat Oupa Klasie in hierdie tyd van sy pa, Salomon, vanuit Makwassie ontvang het, word as ‘n besondere filatelie-stuk beskou, aangesien dit een van die vroegste posstukke uit die Vrystaatse tydperk is. Die inhoud is egter net so interessant. Oupa Salomon verneem na Oupa Klasie-hulle se welstand en kla dat hy nie nuus van hulle af kry nie. Die hoofdoel van die brief was egter om vriendelik dog dringend te verneem wanneer die lening wat pa aan seun gemaak het, dan nou terugbetaal gaan word!

Uit die huwelik met die nooi Smit is vier seuns en twee dogters gebore. Die seuns se name was SALOMON CORNELIS (wie nog in Uitenhage gebore is en later daar getroud is), ERASMUS PETRUS, NICOLAAS JACOBUS en GERT ESAYAS. Gert is as ongetroude jongman in 1865 op Kommando tydens een van die Basotho-oorloë gedood. Die meerderheid van die Brandfort-Vermaaks is afstammelinge van die ander drie seuns uit hierdie huwelik. Een van Oom Salomon se kleinseuns, Erasmus Petrus (Rassie), is nou die eienaar van Zuurfontein, en ‘n agterkleinseun van hom, Andreas Herculas ("Klaas") is nou die eienaar van Fontainebleau, die plaas in die distrik van Brandfort waarheen hierdie storie opwerk.

Oupa Klasie se tweede vrou is daar in die Suid-Vrystaat oorlede en begrawe.

Oupa Klasie trou toe vir die derde keer en wel met MAGDALENA CATHARINA SUSANNA TERBLANCHE.

Uit hierdie huwelik is twee seuns en twee dogters gebore. Die jongste was Oupa Hendrik en sy enigste eie broer was genoem Stephanus Esaias Terblanche (Stefaans) Vermaak. Oor sy nageslag het ek nog baie min inligting. Een van oom Stefaans se seuns, Nicolaas Jacobus, is op 9-jarige ouderdom in die konsentrasiekamp oorlede. Twee ander, Johannes Jacobus en Stephanus Esaias, het skynbaar die oorlog oorleef, maar of hulle enige nageslag gehad het, weet ek nie. Oom Stefaans self is tydens die Engelse Oorlog naby Soutpan noodlottig in die nek verwond en is na die oorlog op Zuurfontein herbegrawe.

BRANDFORT TOE - GEBOORTEPLEK VAN HENDRIK PIETER VERMAAK

In 1862 trek Oupa Klasie weer ‘n slag, die keer Brandfort toe. (Die spreuk " As jy trek, trek noord en as jy verf, verf groen!" word met goeie rede aan Oupa Klasie toegedig.) Sy swaer Terblanche en sy ouer seuns het saam met hom getrek. Oupa Klasie se trek het onder andere bestaan uit meer as ‘n honderd perde. Hy vestig hom nou op die plaas Zuurfontein en daar is Oupa Hendrik toe in 1869 gebore en op Bloemfontein gedoop.

Oupa Klasie het fluks geboer en toe hy in 1890 die eerste keer 100 pond vir sy wol kry, het hy nog ‘n plaas in Dealesville se omgewing gekoop.

Hy was ook ondernemend. Tydens die Kimberley bloei-era het hy ook groente en veevoer daar gaan verkoop. Sy werkswyse en roete was skynbaar tipies om met die ossewa ‘n vrag groente en voer van Brandfort en Bloemfontein na Kimberley te ry al met Modderrivier langs. Met die terugkomslag ry hy dan by Soutpan langs en laai ‘n vrag sout wat hy dan Basotoland (nou Lesotho) toe ry om daar te verruil, hoofsaaklik vir velle en huide. Die word dan in Bloemfontein verkoop en die proses word herhaal.

Die werf op Zuurfontein soos dit in 1899 daar uitgesien het.

Fontainebleau en ‘n hele paar ander plase is later van Zuurfontein afgesny en na sy troue het Oupa Hendrik daar op Fontainebleau gaan bly alhoewel die fisiese onderverdeling eers na Oupa Klasie se dood afgehandel is.

view all 23

Nicolaas Jacobus "Klasie" Vermaak's Timeline