François Petrus (Toon) van den Heever

Is your surname van den Heever?

Connect to 2,071 van den Heever profiles on Geni

François Petrus (Toon) van den Heever's Geni Profile

Share your family tree and photos with the people you know and love

  • Build your family tree online
  • Share photos and videos
  • Smart Matching™ technology
  • Free!

Related Projects

Francois Petrus (Toon) van den Heever

Also Known As: "Toon van den Heever"
Birthdate:
Birthplace: Heidelberg - GP, Sedibeng, Gauteng, South Africa
Death: January 29, 1956 (61)
Bloemfontein, Motheo, Free State, South Africa
Immediate Family:

Son of Jan Gabriel van den Heever and Anna Dorothea van den Heever
Husband of Margaretha (Max) van den Heever
Father of Private and Private
Brother of Jan Gabriel (Jack) van den Heever; Helena Elizabeth van den Heever; Martha van den Heever; Henning Johannes (Hendrik) van den Heever; Christiaan Mauritz van den Heever and 2 others
Half brother of Private; Johanna Christina Hill; Private; Private and Private

Occupation: Judge
Managed by: George Frederick Rautenbach
Last Updated:

About François Petrus (Toon) van den Heever (Afrikaans)

Sterfkennis: https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3QSQ-G9ZR-ZVH7?i=357&wc...

François Petrus van den Heever, wat sy geskrifte hoofsaaklik onder die naam Toon van den Heever gepubliseer het, is op 29 November 1894 in Heidelberg, Transvaal gebore. Ná sy skoolopleiding op Montagu en Ermelo studeer hy aan die Transvaalse Universiteitskollege in Pretoria en werk daarna agtereenvolgens as onderwyser aan die Rand en in Pretoria en as regtersklerk in Windhoek. Deur middel van privaatstudie gaan hy voort met sy opleiding in die regte en word daarna advokaat in Windhoek (1921) en adviseur vir die Departemente van Justisie (1926) en Buitelandse Sake (1929) in Pretoria. In laasgenoemde hoedanigheid woon hy verskeie Rykskonferensies by. Kort daarna word hy aangestel as regter, eers (1932) in Windhoek en later (1938) in Bloemfontein. In 1948 word hy bevorder tot regterpresident van die Oranje-Vrystaat en in dieselfde jaar tot appèlregter. As juris lewer hy 'n belangrike bydrae tot die gebruik van Afrikaans in die regswese, vertaal hy Arntzenius se Institutiones en maak hy studies van The partiarian agricultural lease in South Africa (1943), Aquilian damages in South African law (1944) en Breach of promise and seduction in South African law (1954). Van die Vrystaatse Universiteit ontvang hy'n eredoktoraat in die regte, terwyl sy bundel Eugene en ander gedigte in 1951 - as 'n late regstelling vir die aanvanklike negatiewe kritiek - deur die Akademie met die Hertzogprys vir Poësie bekroon is. Op 29 Januarie 1956 is hy in Bloemfontein oorlede.

Toon van den Heever is die belangrikste digter van sy geslag en in sy werk word hy beïnvloed deur Heine (van wie hy 'n vers vertaal) en Browning (veral wat die aanwending van die dramatiese monoloog betref), in 'n mindere mate ook deur die sewentiende-eeuse Renaissancistiese Nederlandse poësie en die negentiende-eeuse literêre tradisie van Tennyson en die Rosetti's. Met sy gedigte bring hy 'n tematiese verruiming in die Afrikaanse poësie deur die religieuse twyfel, verwerping van die dogma en geding-met-God in sy ‘godsdienstige’ verse, die ruimer perspektief en nuwe skakering in sy nasionale gedigte en die sterk, soms selfs erotiese liefdespoësie, wat die vroeër voorbeelde van Fagan oortref. Met sy godsdienstige opstand en bitterheid en sy twyfel aan die tradisionele waardes van die Afrikaner is hy die voorloper van Marais en die latere Leipoldt. In sy gedigte maak hy ruim gebruik van mitologiese (Grieks-Romeinse en Germaanse) figure, 'n sprokieswêreld van feë en elwe, sowel inheemse as aktuele boustof en 'n groter wysgerige en historiese wêreld as enige Afrikaanse digter voor hom. Juis omdat hierdie tipe vers van die leser 'n omvangryke kennis verwag, het hy betreklik vroeg die verwyt van 'n ‘duister’ digter ontvang en is sy aanwending van uiteenlopende ‘vreemde’ verwysings as onnasionaal en serebraal beskou. Naas die waardering wat hy van Eugène N. Marais, Lydia van Niekerk en J.F.W. Grosskopf kry, reageer G. Dekker en later ook E.C. Pienaar negatief op sy eerste digbundel. Hierdie kritiek lei in 1924 tot die eerste ernstige polemiek oor 'n literêre aangeleentheid in Afrikaans as Abr. H. Jonker, Lydia van Niekerk en Theo Haarhoff Van den Heever se verse in Die Huisgenoot teen E.C. Pienaar verdedig, terwyl Dekker later in sy literatuurgeskiedenis sy aanvanklike oordeel nuanseer.

Die eerste proewe van Van den Heever se verse verskyn in Die Brandwag van 1913 en in die Independent van 1919 en word in dieselfde jaar as Gedigte gebundel. In 1931 word dit herdruk as Eugene en ander gedigte met twee verse weggelaat en sewe nuwes bygevoeg, terwyl die spelling deurgaans gemoderniseer en enkele woordveranderinge aangebring is. In die herdruk van 1939 word nog twee gedigte bygevoeg, terwyl die vierde druk van 1951 drie nuwe verse bevat.

In hierdie bundel kom enkele van die sterkste verse voor wat deur 'n Afrikaanse digter in die twintigerjare geskryf is, en op grond van die indiwidualistiese lewenshouding - soos dit in die opstand teen God, vertwyfeling oor die Afrikanervolk en die erotiese drif tot uiting kom - kan Van den Heever as 'n voorloper van die vernuwing van Dertig gesien word. Die verse is die neerslag van iemand wat hom besin het oor die aard van die menslike bestaan, wat die tradisionele en oorgelewerde waardes verwerp en in sy vertwyfeling en soektog soms tot 'n openlike twis met God en sy wette kom, die lewe as 'n sinledige en dwase spel sien en die sinnelike en erotiese genot as die enigste kortstondige verlossing aankleef. Hierdie drang om weg te vlug in die oomblik van intense hartstog, vind sy bevredigendste uiting in ‘Haelwit gestapelde wolke’, waarin die minnaar die liefdesoorgawe van die geliefde eis teen die agtergrond van die dreigende wolke wat dit alles kan vernietig. Binne die tydsomstandighede van die Eerste Wêreldoorlog kan die ‘ryk in die weste’ wat ‘van sieraad ontbloot’ word, op die verbrokkeling van die Westerse mense en op 'n kultuurpessimistiese lewenshouding slaan, al is dit nie genoegsaam in die gedig verbeeld nie. Die teenstelling tussen die oorweldigende bedreiging van 'n sinledige bestaan en die ‘wellus van ... (die) lippe’ kom ook voor in ‘Die lof van verganklikheid’ met sy ritmiese variasies, opeenhoping van beelde en gebruik van die rykrym. In ‘Liefde en kou water’ oorheers 'n ligte geestigheid in die voorstelling van die minnespel, terwyl die tema van die onbeantwoorde liefde in ‘Aan, Madonna'’ en ‘Die kus’ uitgewerk word, in eersgenoemde gedig met behulp van 'n sprokiesagtige sfeer en Middeleeus-Renaissancistiese vroueverering, wat egter as gevolg van die retoriese beelde en woorde en die oordaad aan weinig funksionele vergelykings oneg aandoen. In heelparty van die natuurgedigte projekteer Van den Heever bepaalde menslike emosies, sodat hierdie verse veel meer as blote beskrywingskuns word. Dit geld vir ‘Sondagmôre’, wat enigsins aan die inset van Celliers se Martjie herinner, ‘In die lig van die maan’ met sy stemmige beeld van 'n aandtoneel en die weemoedige ‘Herdenking’, maar dit bereik 'n hoogtepunt in ‘In die Hoëveld’, wat as die beste enkele gedig van Van den Heever beskou kan word. Hierdie gedig toon 'n ooreenkoms met die Nederlandse ‘De mijnwerker’, die eerste gepubliseerde vers van Van den Heever in Die Brandwag van 15 Julie 1913. Oënskynlik is dit 'n uiting van weemoedige verlange, maar dit kan ook gelees word as 'n beeld van die vasgekeerde mens wat deur 'n teruggryp na die gevestigde, bekende en betekenisvolle dinge in sy verbeelding en drome die wêreld van sy jeug wil herontdek. Dat hierdie terugkeer vir die sprekende ek nie moontlik is nie, word duidelik uit die beeld van die ‘leigrafstene’ en uit die ‘laaste fluit’, wat hier sowel op die fluit van die myn as die sterwende man se longe kan slaan. Met die figuur van die teringlyer in dié gedig kry ons die eerste proewe in die Afrikaanse poësie van 'n sosiale problematiek wat - in teenstelling tot Totius se ‘exempel’-kuns in Trekkerswee - indiwidueel beleef word.

Ook in sy gedigte wat na die nasionale geskiedenis terugwys, gaan dit meestal nie om die uitbeelding van 'n stuk verlede nie, maar word die historiese gebeure verbind met 'n groter filosofiese problematiek. Die bekende ‘Ritrympie’ handel wel oor 'n bepaalde voorval uit die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog, maar reeds in ‘Die laaste Trekker’ en ‘Afrika’ sien hy die wesentlike van die Afrikaner in 'n ewige trek die onbekende in, weg van die slawerny wat hom bedreig. Die duidelikste kom hierdie verruiming van die tradisionele benadering tot uiting in Die beeld van oom Paul’ - soos J.R.L. van Bruggen se gelyknamige gedig 'n sonnet - wat sterk kontrasteer met Celliers se ongenuanseerde siening van Kruger as magsfiguur en 'n subjektiewe, vertwyfelende nagbeeld gee waarin die aksent verskuif van Kruger self na die vae en newelagtige omgewing rondom hom. In ‘Ter gedagtenis van Immelmann’, waarin die dood van 'n Duitse baasloods uit die Eerste Wêreldoorlog herdenk word, beklemtoon hy deur die elegiese, gedrae toon, die retoriese vrae van die inset, die gestileerde taalgebruik en die volgehoue mitologiese beeld die heroïese van die figuur, al is die personifiëring in strofe 4, waarin gepraat word van die ‘vryheidson’ wat sy ‘strale nydig hef’ en van ‘Apol se pyl’, nie bevredigend nie. Die gevoel van opstand en die aanwending van die klassiekmitologiese beelding word verbind in ‘Mania blasphematoria’, waarin die gode in hulle alkoholiese roes die leed van die mens - meer spesifiek as gevolg van die Eerste Wêreldoorlog - sonder emosie aanskou, terwyl die geloofskrisis in ‘Radbod’ teen die agtergrond van 'n stuk geskiedenis uit die Germaanse oudheid verbeeld word. In die dramatiese monoloog ‘In die park’, waarin 'n spreker aan die woord is wat op die rand van die waansin beweeg, lei die geloofskrisis tot 'n verwerping van die Calvinistiese opvatting van die predestinasie, terwyl dit in ‘Berusting’ die vorm aanneem van 'n siniese aanvaarding van die meedoënlose wetmatigheid. Die gelate vraag in hierdie gedig, ‘Want wie sal ons twis met God besleg?’, herinner - soos D.J. Opperman (Digters van Dertig, p. 53) aangetoon het - enigsins aan Vondel se Lucifer: ‘Wij bidden dat ghij toch dien twist met ons beslecht’ (reël 920). Die hoogtepunt van Van den Heever se opstandsgedigte is ‘Wis uit!’, waarin die gedagte van die verganklikheid van vreugde en liefdesgenot verbind word met die gevoel van magteloosheid en nietigheid wat die mens teenoor 'n God voel wat sonder emosies is. Die rymskema van elke strofe sluit aan by die terugkerende evokasies en die herhaling in die slotreël gee telkens 'n sterk strofiese eenheid aan die gedig.

As 'n mens Toon van den Heever se Gedigte met die Afrikaanse digbundels voor hom vergelyk, is dit dadelik opvallend dat hy 'n tematiese verruiming in die poësie bring en dat hy wegbeweeg van die sterk vaderlands-gebonde vers van die ouer digters. Daarby maak hy gebruik van 'n groot verskeidenheid prosodiese en strofiese vorme en bring hy, soos Tj. Buning aangetoon het, 'n belangrike vernuwing deur die aanwending van 'n sterk antimetriese vers. Daarteenoor is Van den Heever se grootste swakheid sy gebrekkige hantering van Afrikaans as medium. Hierdie swakheid vind sy uiting in die veelvuldige gebruik van ‘vreemde’, veral Nederlandse, vorme, bombastiese en stereotiepe woorde, verlede deelwoorde en onnatuurlike konstruksies wat die sinsbou betref. Daarby kom die beswaar dat sy vergelykings selde sterk sintuiglik of verhelderend is, die personifiërings meestal geyk klink, sy gebruik van alliterasies dikwels na bloot uiterlike versiering lyk en die veelvuldige aanwending van die mitologiese beelde en vroueverering opsetlik aandoen en buitendien die retoriese in die hand werk. Die verwoording is soms so yl dat die verse inderdaad duister raak in die pejoratiewe sin van die woord. 'n Voorbeeld hiervan is die gedig ‘Twee en een’ met die kerngedagte dat daar vir elke mens slegs een lewe bestaan, terwyl hy twee begeer. Hierdie gedagte word dan, volgens Van den Heever se eie verklaring wat deur M.S.B. Kritzinger in Letterkundige kragte (p. 142) weergegee word, voorgestel in drie beelde: die vrou wat die kind begeer (strofe 1), die jong meisie wat 'n maat langs haar verlang (strofe 2) en die afgeleefde ou dame wat na 'n toekomstige lewe uitsien. Dié voorstelling van die gang van sake word egter nie deur woord en beeld in die gedig opgebou nie en sonder die eksterne verklaring bly die gedig duister en onbeholpe. Die vernuwing wat Van den Heever met sy bundel bring, moet dus gekwalifiseer word as 'n vernuwing wat grotendeels tematies van aard is en op formele, tegniese en blote taalvlak nog nie 'n betekenisvolle wending beteken nie. Deur die verskuiwing van die aandag van 'n beperkte eksterne problematiek na 'n innerlike wêreld van twyfel, opstand en verset is die verskyning van hierdie bundel egter 'n belangrike datum in die geskiedenis van die Afrikaanse poësie.

Reeds sedert 1920 publiseer Van den Heever sketse, vertellings en kortverhale in verskeie dag- en weekblaaie. 'n Keur van agttien van hierdie stukke verskyn in 1948 as Gerwe uit die erfpag van Skoppensboer. Soms maak hy hierin - soos in sy gedigte - gebruik van 'n sprokieswêreld (‘Trompetter van die Oosteryk’) of die Griekse mitologie (‘Die ontwaking van Galatea’), soms van wetenskapsfiksie wat - in die trant van Eugène Marais - as werklikheid aangebied word (‘Gysbert se stryd met sy siel’), en soms speel die gebeure af teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog (‘Die huis teen die koppie alleen’). Die belangrikste stukke is egter dié waarin die lewe van die kind (‘Kobus’) en gestaltes uit 'n Transvaalse jeug (‘Werkstaking by die kleigat’ en ‘Die beukelaar van outa Sem’) opgeroep word. Wat 'n mens in hierdie fyn prosakuns tref, is die skerp waarneming van mens en natuur, die boeiende en lewendige verteltrant en die plek-plek verrassende aanwending van die enkel woord en beelde uit die vertroude sfeer van die plaaslewe.

Dertig jaar ná sy debuut verskyn Van den Heever se tweede bundel, Die speelman van Dorestad (1949), maar dan is dit oorwegend swakker verse waarin die groot ontwikkeling van die Afrikaanse poësie sedert 1919 haas geen neerslag gevind het nie. Die bundel word verdeel in vyf betreklik willekeurige rubrieke wat oor die algemeen weinig eenheid vertoon. Die eerste afdeling, ‘Die speelman van Dorestad’, bestaan uit elf gedigte wat afwisselend in liriese, epiese en dramatiese verse die verhaal vertel van 'n speelman wat in die tyd van die Noormanne van Engeland en Skandinawië na die Europese vasteland gaan om na sy ontvoerde geliefde Gretschen te soek en tot die ontdekking kom dat sy as slavin verkoop en na 'n onbekende bestemming gestuur is. Die liriese serenades aan Gretschen is egter retories met beelde uit 'n verouderde romantiese tradisie, terwyl die vervloeking van Londen (‘Die speelman sing van die toekoms’) te veel vanuit 'n twintigste-eeuse en spesifiek 'n Afrikanerstandpunt gegee word. Die belangrikste enkele deel is die dramatiese monoloog ‘Die biskop vermaan’, maar die gebruik van verskillende versvorms en afwisseling in toonaard laat die geheel van die siklus verbrokkel, terwyl die hoofgedagte, nl. dat waarheid en skoonheid steeds aan die soekende mens ontglip, te eksplisiet in die slotgedig gestel word. Die tweede en derde afdelings bevat o.m. enkele aktualiteitsgedigte, soos ‘Generaal Hertzog’ en 'n siklus van vyf sonnette oor ‘Die mens van die atoom-eeu’, maar die belangrikste vers is ‘Die lof van Christoferus’ met sy aardse beeldspraak. Die afdeling ‘Ander sonnette’ is, soos die titel aandui, van uiteenlopende aard en oorwegend retories verwoord, terwyl die slotafdeling 'n uiters powere parodie op ‘moderne’ poësie bevat. Met uitsondering van enkele gedigte is hierdie bundel dus teleurstellend en maak dit nie deel uit van die hoofstroom van die Afrikaanse poësie nie.

Toon van den Heever se belangrikheid vir die Afrikaanse literatuur berus dus op enkele gevoelige prosasketse en verhale, 'n klein aantal suiwer gedigte (waaronder ‘In die Hoëveld’ die hoogtepunt is) en die tematiese vernuwing wat hy met sy eerste digbundel bring en waarmee hy latere ontwikkelings aankondig. Die retoriese en verslete beeldspraak uit 'n verouderde literêre tradisie en die dikwels ongevoelige aanwending van woorde het egter tot gevolg dat sy belangrikheid vandag in 'n groot mate op literêr-historiese oorwegings berus.

Bron: Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1, J.C. Kannemeyer

view all

François Petrus (Toon) van den Heever's Timeline

1894
November 29, 1894
Heidelberg - GP, Sedibeng, Gauteng, South Africa
1956
January 29, 1956
Age 61
Bloemfontein, Motheo, Free State, South Africa