Hans Jurgen Kotze, b1

How are you related to Hans Jurgen Kotze, b1?

Connect to the World Family Tree to find out

Share your family tree and photos with the people you know and love

  • Build your family tree online
  • Share photos and videos
  • Smart Matching™ technology
  • Free!

Hans Jurgen Kotze, b1

Also Known As: "Hans Jury", "Jan Juriaan", "Jan Jurris"
Birthdate:
Birthplace: Benniveld, Germany
Death: circa 1718
Immediate Family:

Son of Johann Hannsz Kotze, SV/PROG and Catharina Henneke, SM
Husband of Elsabe van Hoff
Father of Johannes Kotze
Brother of Christiaan Kotze, b2
Half brother of Dirk Kotze; Jan Kotze, b4; Jacob Kotze, b5; Hendrik Kotze, b6; Maria Kotze, b8 and 2 others

AKA: Johannes Jurgens Kotze
Managed by: Leoné Gardner
Last Updated:

About Hans Jurgen Kotze, b1

Hans Jurgen Kotze - die verlore seun deur Scott H. Kotzé

Familienavorsing is soos ‘n groot legkaart – ‘n mens bou van die middel buitentoe en jy weet nie waar jy gaan eindig nie. Ek “bou” reeds die laaste 12 jaar aan die Kotzé familie. Min is eintlik nog oor dié familie van ou Saksiese afkoms geskryf en die Suid Afrikaanse tak verdien beslis meer aandag!

Soms voel dit of die Kotze’s met opset net buite die gesigsveld, skadufigure in die agtergrond bly. Met uitsondering van ‘n paar individue, het hulle nie veel erg aan die kollig gehad nie. Eerder as om in veldslae te veg, aan rebellies deel te neem of op kerkrade te dien, was hulle stilweg agter die skerms besig om hul eie ding te doen, ‘n lewe op Afrika-bodem uit te kerf.

Wat die navorsing van dié familie uiters bemoeilik. is die verskillende spelwyses van Kotzé oor die laaste 300 jaar. Ek het sover op die volgende afgekom: Coetse, Coetsee, Coetze, Coetzee, Cotse, Cotsee, Cotze, Cotzee, Kotse, Kotsee, Koetse, Koetsee, Koetze, Koetzee, Kotze, Kotzee en onlangs Cothse. Soos gesien kan word uit bogenoemde, is daar ten minste twee ander noemenswaardige families, Coetsee en Coetzee, wat in eie reg bestaan en histories geen verwantskap met die Kotzé’s het nie – dus ’n nagmerrie vir enige navorser om hulle van mekaar te onderskei.

In my soektog na inligting het ek in 2010 al die verwysings na Kotze’s (in al bogenoemde vorme) in die Kaapse argief afgelaai (sowat 3300), gerangskik en gekategoriseer, met die doel om oor die volgende paar jaar stelselmatig daardeur te werk. Een van die inskrywings wat my aandag getrek het was ‘n testament opgestel in 1717 vir Jan Jurgen Coetse en sy vrou Elsebe van Hoff . My eerste reaksie was ‘wie was hy?’ en ‘was hy verwant aan die stamvader?’ Volgens my kennis was daar in 1717 net 1 lewende Kotze aan die Kaap - die 25 jarige Dirk Kotze, 2e seun van die stamvader Jan.

Hierdie Jan Jurgen Kotze word wel deur Hoge aangeteken en daar word selfs deur Hoge genoem dat daar ‘n familieverband met die stamvader Jan Kotze moet wees, maar daar word nie op ingegaan nie. Sover ek kon vasstel, verskyn Jan Jurgen Kotze nie in die Suid Afrikaanse Geslagregister (SAG, vol. 4) nie.

Volgens meeste bronne tot op hede het die stamvader, Jan Kotze, wat in 1691 aan die Kaap aangekom het, twee seuns gehad:

Die eerste, Christaan, is gebore uit Jan se eerste huwelik (waarskynlik Königstein, Duitsland, 1677). Volgens Jan Kotze se testament, 1694, was Christiaan se moeder Catharina Henneke, maar ten tye van Jan se verblyf in Nederland was sy reeds oorlede en Jan was getroud met Anna Wichman. Toe laasgenoemde oorlede is terwyl Jan op ‘n seereis na Indië (Batavia) was, het Christiaan ‘n tyd lank in die VOC se ‘aalmoesenhuis’ te Amsterdam deurgebring totdat sy vader teruggekeer het en die rekening kon vereffen. Dit blyk verder uit Jan se testament dat Christiaan ongelukkig hieroor was maar dit word verder genoem dat hy steeds sy ‘moedersporsie’ van 150 gulden sou ontvang indien sy gedrag verbeter en hy nog in lewende lywe is ten tye van sy vader se afsterwe.

Jan Kotze is op 1 Jun 1690 vir ‘n derde keer getroud met Hillegonde Boone en vyftien maande na hul aankoms aan die Kaap word ‘n tweede seun, Dirk, op 18 Augustus 1692 gebore.

In die Monsterrolle vir 1695 ('t Caabse district) word Jan Cotse & Hillegont Boonen met 2 kinders aangeteken.

Volgens ‘n dokument opgestel tussen 1802 en 1815 deur Jan Ernst Heydenrych het die stamvader, Jan Kotze, op 13 Maart 1698 met die skip Nichtevecht teruggekeer na Europa ‘voorts eenige bloetverwante in Bremen bezogt en alle zaaken in order geschikt hebben kwam retoer na herwaarts met het schip Beverwijk op den 6 Meij 1701’. In die monsterrolle vir 1702 word Jan Coetse & Hillegonde Penon met 1 kind aangeteken.

Christiaan Kotze is in 1697 getroud en verskyn apart in die 1702 monsterrolle as volg: ‘Christiaan Coetzee en Judith Clinck 1k’. Ook in die monsterrolle vir 1702 ('t Caabse district) verskyn die naam Hans Jurien Coetzee vir die eerste keer.

Op 10 Sep 1702 tree Hans Juriaan Cotse en Elizabeth Boon op as getuie by die doop van Christaan Kotze se seun, Christiaan.

Interessant dat Hans Jurgen Kotze vir die eerste keer in 1702 aan die Kaap verskyn, nadat die stamvader van sy Europese besoek teruggekeer het. Miskien was Hans Jurgen die ‘familie’ wat in Bremen besoek is en saam teruggekeer het na die Kaap?

Op 17 Feb 1704 tree Jan Jury Cotze, jongman van Bennivelt in die huwelik met Elsje Barzenius, van Cabo.

Op 13 Nov 1707 word ‘n seun, Johannes, aan die Kaap gedoop vir Jan Jurrie Coetsé en Elsje van Hoff en op 11 Desember 1712 tree Jan Jurgen Coetzé en Elsje van Hof op as getuies by die doop van stamvader Jan Kotze (toe reeds oorlede) se seun Roelof, verwek by sy vierde vrou, Hendrina van Hoeting.

In die Kaapse monsterrolle vir 1712 verskyn Hans Jurgen Coetzee en Elsje van Hoff en vir 1713 Jan Coetze en Elsie van Hof .

Hoewel dit uit bogenoemde dokumente duidelik is dat Jan, Christiaan en Hans Jurgen Kotze mekaar geken het en dat daar waarskynlik ‘n familieverband was, kan dit nie sondermeer aanvaar word nie en was dit ‘n geval van ‘ons sal dalk nooit weet nie’. Of was daar meer inligting onder ons neuse wat net gewag het vir die regte interpretasie?

Die stamvader Jan Kotze is in 1712 oorlede en ek kon danksy die transkripsies van die Weeskamer se dokumente toegang tot sy vendurol kry. Die inskrywing lui as volg:

‘Vendu rol der goederen nagelaten en met ‘er dood ontruijmen bij wijlen den landbouwer Jan Coetsé d’ oude ten voordeel van desselfs naergelatene wed:e Hendrikje van Oetinge ter eenre en desselfs seeven soo kinderen als kinds kinderen, genaemt:

Hans Jurgen en representeerende desselfs vader Christiaen Coetsé, zal:r, bijde verwekt in’t 1e Jan Coetsé huijwelijk van voorn:e Jan Coetsé ‘d oude en desselfs overleedene huijsvrou N:N: Dirk Coetsé Hendrik Verwekt in’t tweede huijwelijk Maria Jantje Coetsé verwekt in’t derde of laetste huijwelijk met voorn:e Hendrikje van Oetingh en het kind waer van voorn:e laastelijk Wed:e nog swanger gaet’

Die transkripsie was vaag en oop vir interpretasie, byvoorbeeld watter kinders is uit watter huwelik verwek en wie was Christiaen se verteenwoordiger? Twee frases het dadelik my aandag getrek: die eerste naam onder ‘kinderin als kinds kinderin’ was Hans Jurgen en die woorde ‘beijde verwekt in’t eerste huijwelijk van voorn:e Jan Coetsé de oude’.

Nadat ek die teks deeglik bestudeer het, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat dit as volg geinterpreteer moet word: Hans Jurgen en Christiaen (verteenwoordig deur sy seun Jan Coetsé), beide verwek uit Jan Coetsé de oude se eerste huwelik.

Ek het dr. Helena Liebenberg, wat aan die hoof van die transkripsies van die Weeskamer-projek gestaan het, per e-pos gekontak en haar gevra vir haar interpretasie. Ook, indien moontlik, om die oorspronklike dokument te raadpleeg om sodoende die onduidelikheid wat deur die transkripsie plaasgevind het, te probeer oplos.

Haar antwoord was as volg:

“The copied version of the original inscription should be interpreted as follows:

Hans Jurgen (son of Jan Coetsé d'oude) and Jan Coetsé (grandson who represented his father the late Christiaen, brother of Hans Jurgen); both Hans Jurgen and Christiaen were procreated by Jan Coetsé with his late first wife, N:N: “

En verder:

“Dirk Coetsé verwekt in't tweede huijwelijk, Hendrik, Maria, Jantje Coetsé verwekt in't derde ...”

“With the comma after ‘tweede huijwelijk’ the whole meaning changes. We will alter the transcription as such so that future versions will be correct.”

Ek het ook my bevinding na Mansell Upham en Delia Roberts (wat die webwerf ‘First fifty year project’ bedryf) verwys en Mansell Upham het bevestig dat hy ook vendurol soos dr. Liebenberg interpreteer.

Inderdaad – die antwoord was onder ons neuse – Hans (Jan) Jurgen Kotze, was die seun van die stamvader Jan Kotze uit sy eerste huwelik en ‘n eie broer van Christiaan Kotze!

Genealogies lyk die eerste twee geslagte Kotze’s in Suid Afrika dus as volg:

a1 Jan (Hannsz) KOTZE, *25.1. 1652, Königstein, †1712, Land van Waveren. x (1677) Catharina HENNEKE. b1 Hans Jurgen KOTZE (ook genoem Hans Jury of Jan Juriaan), †circa 1717. x Kaap, 17.2.1704, Elsje (Elsie, Elsabe) VAN HOFF, ~29.5.1689, Stellenbosch, †circa 1724. c1 Johannes KOTZE , ~13.11.1707, Kaap.

b2 Christaan KOTZE, *Königstein, †circa 1703 x Kaap, 1.12.1697, Judith Christina KLING. c1 Johannes (Jan) KOTZE, ~5.10.1698, Kaap (een van hierdie twee verteenwoordig hul c2 Johannes Christiaan KOTZE , ~9.5.1700, Kaap (vader in die boedel van hul oupa Jan, 1712 c3 Christiaan KOTZE , 10.9.1702, Kaap (jonk oorlede)

a1 Jan (Hannsz) KOTZE, *25.1.1652, Königstein, †1712, Land van Waveren xx Anna WICHMANN (geen kinders)

a1 Jan (Hannsz) KOTZE, *25.1.1652, Königstein, †1712, Land van Waveren xxx Nederland, 1 Jun/Jan 1690, Hillegonde BOONE, *23.11.1662, Nederland, †22.8.1702, Kaap.

b3 Dirk KOTZE, 18.8.1692, Kaap x Kaap, 13.1.1726, Maria Magdalena CARSTENS, *8.11.1711, †8 Nov 1755.v (14 kinders - meeste Kotze’s in SA stam uit hierdien lyn).

a1 Jan (Hannsz) KOTZE, *25.1.1652, Königstein, †1712, Land van Waveren xxxx Kaap, 6.1.1704, Hendrina (Hendrika) VAN HOETING b4 Jan KOTZE, ~6.9.1705, Kaap b5 Jacob KOTZE, ~19.9.1706, Kaap (jonk oorlede) b6 Hendrik KOTZE, ~8.7.1708, Kaap x Helena VALENTYNSE b7 Jan KOTZE, ~1.2.1711, Kaap (jonk oorlede) b8 Maria KOTZE, ~1.2.1711, Kaap x Jacobus VAN DER MIST, xx Johan SCHAMMELPFENNIG b9 Roelof KOTZE, ~11.12.1712, Kaap (gebore na sy vader se dood, jonk oorlede).

Na so ‘n lekker ontdekking is ‘n mens éérs gemotiveerd om verder navoring te doen. My mikpunt is nog om deur al 3300 rekords te werk en sodoende na die groter Kotze familie in Suid Afrika te kyk.

My eerste boek oor die Kotzé’s van Marico is byna klaar en gaan hopelik binne die volgende paar maande gedruk word.

Bronne en Notas:

KAB, MOOC 7/1/2, verw. 85 (1717).
 Personalia of the Germans at the Cape 1652 – 1808, dr. J Hoge, p216.
 KAB, MOOC 7/1/1, verw. 34 (1694).
 Monsterrolle van die Kaap, getranskribeer deur Richar Ball, beskikbaar by www.eggsa.org
 Ek het deurgaans die oorspronklike spelling in die verskillende bronne behou om sodoende die leser ‘n idee te gee van die verskillende spelwyses van Kotze. Dit word deurgaans in kursief aangedui.
 Jan Ernst Heydenrych was ten eerste getroud met Francina Helena Kotze (1747-1801), ‘n kleindogter van die stamvader Jan Kotze, en dit lyk of hy toegang gehad het tot ‘n “stamboek” van die Kotze familie. Ongelukkig was die oorspronklike dokument reeds verlore toe die inligting in Familia XI (4), 1974 verskyn het en die bydraer, J C Raath vra dat die persoon in besit daarvan met hom in verbinding moet tree.
 Monsterrolle van die Kaap, getranskribeer deur Richard Ball, beskikbaar by www.eggsa.org
 Kaapse Kerk, dope 1695 – 1712, p27. (TAB verw. FK 2147).
 Kaapse Kerk, huwelike 1695 – 1712. (TAB verw. FK 2147).
 Kaapse Kerk, dope 1695 – 1712. (TAB verw. FK 2147).
 Kaapse Kerk, dope 1695 – 1712. (TAB verw. FK 2147).
 Ek het deurgaans die spelling behou soos dit in die oorspronklike dokumente voorkom om aan te toon hoe dit die navoring bemoelik.
 KAB, MOOC 10/1.73 beskikbaar by http://databases.tanap.net/mooc/
 Dr Helena Liebenberg per e-pos aan die skrywer op 19 Feb 2013.
 Mansell Upham per e-pos aan die skrywer op 20 Feb 2013.
 Volgens Mansell Upham per e-pos was Elsje van Hoff se ouers Lambert (Lammert) Laurensz: Barzenius van Hoff en Margaritha Jans Visser. Laasgenoemde was die buitegtelike dogter van Jan Coenraedsz Visser en Lijsbet van Bengale.

https://www.wikitree.com/wiki/Kotze-598

view all

Hans Jurgen Kotze, b1's Timeline

1707
1707
Cape Town, Cape of Good Hope, South Africa
1718
1718
????
Benniveld, Germany