Willem Jacobus Swanepoel, b3c12d6

Is your surname Swanepoel?

Research the Swanepoel family

Willem Jacobus Swanepoel, b3c12d6's Geni Profile

Share your family tree and photos with the people you know and love

  • Build your family tree online
  • Share photos and videos
  • Smart Matching™ technology
  • Free!

Willem Jacobus Swanepoel, b3c12d6

Birthdate:
Death: circa December 1884 (79-87)
Lichtenburg, North West, South Africa
Immediate Family:

Son of Hendrik Nicolaas Jacobus Swanepoel, b3c12 and Maria Jacoba Swanepoel, d3e3
Husband of Isabella Jacoba Swanepoel and Isabella Adriana Bantjes
Father of Liefbertus Willem Jacobus Swanepoel, b3c12d6e1; Isabella Johanna Adriana Maria Kotze, b3c12d6e2; Maria Jacoba Pretorius, b3c12d6e3; Ragel Helletjie van den Berg, b3c12d6e4; Hendrik Jacobus Swanepoel, b3c12d6e5 and 6 others
Brother of Hendrik Nicolaas Jacobus Swanepoel; Christoffel Johannes Swanepoel; Johannes Andries Swanepoel; Hermina Christina du Toit, b3c12d10; Jan Andries Francois Swanepoel and 6 others
Half brother of Pieter Andries Jacobus Swanepoel, b3c12d1; Anna Francina Smith; Martha Johanna Margaretha Swanepoel, b3c12d3; Isabella Johanna Adriana Bantjes, b3c12d4 and Hendrika Jacoba de Beer, b3c12d5

Managed by: Adriaan Roedolf Swanepoel, a1b6c...
Last Updated:

About Willem Jacobus Swanepoel, b3c12d6

Willem Jacobus Swanepoel, b3c12d6 Gender: Male Birth: May 12 1801 Death: Dec 1884

Lichtenburg, North West, South Africa Father:	Hendrik Jacobus Swanepoel, b3c12 Mother:	Maria Jacoba Smit, b3c4d3e3 Wives:	Isabella Jacoba Swanepoel (born Bantjes), (Martha) Isabella Adriana Bantjes Children:	Maria Jacoba Pretorius (born Swanepoel), b3c12d6e3, Bernard (Barnard) Louis Swanepoel, b3c12d6e6, Hendrik Jacobus Swanepoel, b3c12d6e5, Liefbertus Willem Jacobus Swanepoel, b3c12d6e1, Ragel Helletjie van den Berg (born Swanepoel), b3c12d6e4, Isabella Johanna Adriana Maria Kotze (born Swanepoel), b3c12d6e2, Hermina Christina Unknown, Anna Francina Petronella Unknown, Hendrika Wilhelmina Unknown, Johanna Magdalena Sophia Unknown, Christina Wilhelmina Unknown Siblings:	Hendrik Nicolaas Jacobus Swanepoel, b3c12d7, Christoffel Johannes Swanepoel, b3c12d8, Johannes Andries Swanepoel, b3c12d9, Hermina Christina Swanepoel, b3c12d10, Jan Andries Francois Swanepoel, b3c12d11, Matthys Willem Jacobus Cornelis Swanepoel, b3c12d12, Cornelis Alewijn Swanepoel, b3c12d14, Frederik Jacobus Cornelis Unknown, Maria Jacoba Elizabeth Magdalena Swanepoel, b3c12d16, Martha Johanna Margaretha Coetzee (born Swanepoel), Pieter Andries Jacobus Swanepoel

Ek kom op ‘n interessante stukkie af in die Notules van die Beaufort-Wes gemente se kerkvergadering van 5 April 1836, wat ek op die webtuiste van Familysearch.com se argiewe gekry het. Dit blyk asof ons voorvader Gerhardus Johannes du Toit Snr (1) (nou 72 jaar oud) maar ‘n moeilike man was!! Tydens die vergadering bespreek die Kerkraad die volgende geval:

Isabella Johanna Adriana Bantjes het die kerkraad in kennis gestel dat haar dogter Isabella Jacoba weer swanger is as gevolg van bloedskande deur haar broer Willem Swanepoel. (Sien bo). Beide is “gedagvaar” om voor die kerkraad te verskyn en Willem word binne geroep. Daar word aan hom gestel dat daar ‘n klag van “hoerery” gelê is, en aan hom word gevra of hy skuldig is of nie. Sy antwoord is “Ja, een kind heb ik, reeds van byna 3 jaren oud en een (staat?) als het God behagen moet von twee maanden geboren worden.” (Nog ‘n baba op pad.)

Die kerkraad bevind “dat dit een herhaalde oortreding van bloedschande zij”. Dit word openlik afgekeur en daar word besluit om Willem Swanepoel en Isabella Bantjes af te sny van die Christelike Gemeente by die geleentheid van die voorbereiding van die aanstaande Nagmaal. Die bekendmaking sal geskied en die gemeente sal versoek word om die twee in hul gebede te dra.

Dan word daar deur die moderator van die vergadering te kenne gegee dat hy mev Bantjes, haar dogter Isabella, sowel as Gerhardus du Toit Snr. gedagvaar het om voor die kerkraad te verskyn. Daar is blykbaar ‘n “onbetaamlike uitdrukking” deur Gert (Gerhardus) gemaak aan Isabella en Willem. Gerhardus daag nie op nie en daar word voorgestel om dit oor te laat na die volgende vergadering.

Ek het na die volgende vergaderings gaan kyk. Op die volgende vergadering word hy weer ingeroep, en weer verskyn hy nie. Mev Bantjes word ingeroep en vertel aan die Kerkraad dat haar dogter huis toe gekom het en aan haar gesê het dat “de oude G. du Toit niet wil ophouden haar in de schanden te steken en indien zy zyn ouderdom niet ontzag, sy hom een dwaas antwoord zou geven”. Sy gaan voort om hul te vertel dat Gerhardus aan Willem Swanepoel iets gesê het wat ek nie lekker kon uitmaak nie, maar die kerkraad het besluit dat Gerhard skandelike taal gebruik het. Weer word daar gesê dat hul met hom sal praat op die volgende vergadering. (Bloedskande en ongehude kinders was in daardie dae (soos nou) ongehoord en ek veronderstel ‘n konserwatiewe kerkman soos Gerhardus kon nogal baie te sê gehad het daaroor!)

Okt 1836 se vergadering: Weer word hy geroep om te verskyn, daag weer nie op nie, maar die keer gee hy deur die koster te kenne dat hy “hiernatoe komt zonder schild en ook zonder een document alwaar zyn beschuldiging in bekend staan”. Daar word besluit om die klagtes van mev Bantjes skriftelik aan hom oor te dra en dat hy weer sal versoek word om op die volgende vegadering voor die kerkraad te verskyn.

Des 1836 se vergadering: G du Toit word vir die derdemaal gedagvaar en weer verskyn hy nie. Daar word besluit “uit hoofd van zynen grootten ouderdom”, ’n kommissie bestaande uit broeders Bothma en Weideman te benoem om weer die beskuldigings met hom mondeliks te gaan bespreek en dat hulle met die volgende vergadering terugvoer moet gee.

Maart 1837 se vergadering – Die Kommissie gee te kenne van G du Toit se bereidwilligheid om te verskyn, mits Mev Bantjes ook gedagvaar word om te verskyn. Word uitgestel na volgende vergadering sodat hulle haar weer kan dagvaar om te verskyn.

Daar word niks verder genoem in die daaropvolgende vergaderings nie, so ek neem aan die saak is afgesluit.

Willem het later jare met Isabella (sy eerste vrou) se sussie getrou en hulle het 3 kinders gehad. (Bygevoeg deur Riana le Roux nee du Toit, afstammeling)

____________________________________________________________

Notas deur David Abraham Swanepoel

‘n Buitengewone vlak van ondertrouery, en dus genetiese inteling, begin by hierdie individu. Dit sal in ‘n minder ernstige mate vir nog 2 geslagte voortduur.

Soos in die stuk hierbo aangedui pleeg hy bloedskande met sy susterskind. Dit is nie duidelik of daar eintlik 2 van hulle was nie. Sien vorentoe. Dit was weliswaar sy halfsuster se dogter(s), maar die vlak van inteling is steeds hoog.

Cooks [1] beskryf dit so: “Willem Swanepoel se pa, Hendrik Jacobus, soos beskryf onder punte 2.11 en 2.12, was twee keer getroud.200 Uit sy huwelik met Isabella Jacoba Esterhuizen is daar ʼn dogter, Isabella Johanna Adriana Swanepoel, gebore. Hendrik se tweede huwelik was met Maria Jacoba Smit en uit dié huwelik is Willem Swanepoel gebore. Isabella Johanna Adriana Swanepoel (Willem se halfsuster) is met Bernhard Louis Bantjés getroud en het ʼn dogter Isabella Jacoba Bantjés in die lewe gebring. Willem is in 1836 met Isabella Jacoba Bantjés getroud nadat hy goedkeuring van die staat gekry het. Sy eerste kind is in 1836 gebore, hoewel die stamregister van dr. A.J. Swanepoel aanvoer dat die kinders buite-egtelik gebore is.” AJ Swanepoel [2] is korrek aangesien Cooks self die dokumente in sy tesis verskaf, wat bewys dat Willem Jacobus inderdaad nooit getroud was nie. Afgesien van die kerklike sensuur moes die staat ook toestemming gee vir ‘n huwelik. [1]. Hulle het egter nie daarvan gebruik gemaak nie, soos bevestig word deur sy sterfkennis [3] en gepaardgaande brief [4], waarvan die hoofdoel was om die status van eiendomme toe te lig.

Daar was een kind in 1833 gebore volgens die stuk hierbo en nog een op pad in 1836. Volgens AJ Swanepoel was daar al 4 voor die staat die toestemming vir ‘n huwelik gegee het. Die staat het seker maar ingegee om die kinders wetlike beskerming te gee.

Teen die kind Anna Francina Petronella se doop in 1850, is die twee steeds “afgesneden van de Kerk wegens onwettige verbintenis”, volgens die dooprekord [5]. Weereens doop die kerk die kind seker om haar eie ontwil, tenspyte van die gedrag van die ouers. Daar is twyfel oor Anna Francina Petronella se geboorte-orde. Volgens Willem Jacobus se sterfkennis moet sy no 7 wees. Daar is egter ook sprake van nog ‘n kind voor haar op die Geni-profiel (op 2018-05-26). Mens kan met geredelikheid aanvaar dat hy en Isabella Jacoba nooit volledig in die geledere van die kerk heropgeneem is nie.

Was daar een of twee moeders van sy kinders? Dis moeilik om na te vors. Die naam Isabella wat by 2 susters voorkom is baie verwarrend, maar so iets het dikwels voorgekom in die ou dae. Kyk maar na die lys van Willem Jacobus se kinders self – voortdurende gebruik van dieselfde name maar in ander volgordes.

Die stamregister van dr. A.J. Swanepoel lui: “Kinders e1 tot e4 is volgens Beaufort-Wes se doopregister buite-egtelik gebore. Met die doop van sy kinders e9-e11 is sy eggenote se name as Isabella Adriana Bantjés geskryf. Dit is waarskynlik sy tweede huwelik (dalk sy eerste eggenote se suster of niggie) of dit kan wees dat sy eerste eggenote se name deur die Nederduits Hervormde-gemeente Potchefstroom anders geskryf is as wat dit in die Kaapse gemeente geskryf is”. 203 [2]. Hierdie is ‘n moontlikheid. Hoe waarskynlik, sal ons ongelukkig sal nie weet sonder addisionele dokumentasie nie. Wat van e5 tot e8? Dis seker maar net nie so aangedui in Beaufort-Wes se doopregister nie.

Helaas skep die sterfkennis soos deur Cooks verskaf verdere verwarring. Dit praat van 8 kinders, maar gee net 7 aan op die hoofbladsy. Dan is daar ‘n voortsettingsbladsy wat op ‘n ander manier verkleur het. Ook in ‘n ander handskrif, word nog 2 name verskaf. Die blaaie hoort waarskynlik bymekaar as dit so geliasseer is. Wat insiggewend is, is dat die 2de vel onderteken is deur “I J Bantjes”, d.w.s. Isabella Jacoba.

Hy koop sy erwe in Lichtenburg saam met “SB Bantjes”. Wie was hierdie persoon? Die 2de lewensmaat? Maar as sy bestaan het, kom die voorletters nie ooreen nie. Geen ander Bantjés in die nabye familie, bv pa en sibbe van Isabella, het hierdie voorletters nie. Verder, as Isabella Jacoba die sterfkennis onderteken het, was daar seker nie ‘n ander een nie. Waar kom kinders e10 en e11 dan in? Ek dink daar was net een lewensmaat, en die verwarring word deur administratiewe foute geskep. Ek kan egter nie die stelling bevestig sonder om al die dokumente te sien nie.

Visagie [6] lys hom nie, maar Cooks se navorsing bewys genoegsaam dat hy wel 'n Voortrekker was.

Ten slotte

Willem Jacobus Swanepoel en Isabella Jacoba Bantjés was nie ‘n konvensionele paartjie nie. Mens moet waak teen moralisering. Gerhardus du Toit was nie self ‘n kerraadslid nie en het uit sy pad gegaan het om hulle te verkleineer. Die saak was nie sy probleem nie.

Willem Jacobus was ‘n Voortrekker, in die Retief-trek. Cooks haal ‘n brief aan om dit te bewys. Die Voortrekkers is in die 20ste eeu voorgehou as die toonbeeld van vroomheid. Sy handelinge is beslis nie tipies van hulle nie, maar bewys dat boeke soos “The Covenant” (Michener) en The Great Trek Uncut (Binckes) nie verkeerd was nie. Geen geslag is vromer of slegter as ‘n ander nie!

Bloedskande is egter nie ‘n saak om ligtelik op te neem nie. Dit wil nie voorkom of hulle enigsins berou gehad het oor hulle verhouding nie, en het ook nie van die geleentheid gebruik gemaak om te trou toe hulle kon nie. Ons norme is vandag anders, maar bloedskande bly steeds onaanvaarbaar, al is dit nou ook “half-bloedskande”. Die gesondheidseffek op die nageslagte kan groot wees, veral waar die effek versterk is. Die nageslagte van Willem Swanepoel en hulle ingetroude familie, het nog verder ondertrou, asof (lag) daar niemand anders op die aarde was nie!

Bronne:

1. Cooks, James Andrew. 2013. ʼn Genealogiese en historiese perspektief op ʼn gedeelte van die familie Swanepoel in Suid-Afrika (1698-1906) MA tesis, Noordwes-Universiteit. Gratis aflaaibaar by: https://dspace.nwu.ac.za/handle/10394/10163 Sy aanhaling 202: KAB, Colonial Office (CO), 3959, 30, Part 1. Memorials received. Willem Jacobus Swanepoel. Permission to marry his niece, Isabella Jacoba Bantjés, starting 1836 ; Wits University Library, Manuscript, A7, J.G. Bantjés,1867-1910; KAB, CO, 3990, 41 part 1, Memorials received. Willem Jacobus Swanepoel. dispensation to enable him to marry Isabella Jacoba Bantjés, starting 1836 ending 1836. Sy aanhaling 228: JCPA, Lêer 1, Korrespondensie: James Andrew Cooks-John George Cooks, 26 Januarie 1970, p. 3.

2. A.J. Swanepoel in medewerking met Aletta Maria Swanepoel. 1999. n Geslagregister van Swanepoel-families in Suid-Afrika. Pretoria: A.J. Swanepoel

3. Sterfkennis Willem Jacobus Swanepoel . In Cooks, James Andrew. 2013. ʼn Genealogiese en historiese perspektief op ʼn gedeelte van die familie Swanepoel in Suid-Afrika (1698-1906) MA tesis, Noordwes-Universiteit. Gratis aflaaibaar by: https://dspace.nwu.ac.za/handle/10394/10163. Sien PDF genaamd Cooks_JA_Appendices. Opgelaai.

4. Brief van Landdros, Lichtenburg, aan Weesheer, Bloemfontein. 12 Januarie 1885. In Cooks, James Andrew. 2013. ʼn Genealogiese en historiese perspektief op ʼn gedeelte van die familie Swanepoel in Suid-Afrika (1698-1906) MA tesis, Noordwes-Universiteit. Gratis aflaaibaar by: https://dspace.nwu.ac.za/handle/10394/10163 PDF genaamd Cooks_JA_Appendices Opgelaai.

5. "South Africa, Free State Dutch Reformed Church Records, 1848-1956", database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:Q2HL-BTFN : 6 August 2017), Anna Francina Petronella, 1851. Opgelaai.

6. Jan C. Visagie. 2010. Voortrekkerstamouers 1835-1845. Tweede uitgawe. Pretoria: Proteaboekhuis.

Inligting verskaf as Oop Toegang onderhewig aan lisensie CC BY-NC-ND 4.0 - Creative Commons https://creativecommons.org/licenses/by-nc-nd/4.0/legalcode

Kwytskelding: geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foutiewe of onakkurate inligting nie, hetsy aangehaal, herverpak of self geskryf.

_____________________________________________________________

Nota deur David Abraham Swanepoel – verdere ondertrouery.

Na die verbintenis van Willem Jacobus b3c12d6 en Maria Jacoba Bantjés duur die kinderverwekking met  nabye familie verder voort, weliswaar op wettige vlak en binne die huwelik. 
“Hierdie ondertrouery is gekompliseer deurdat die seun van Abraham (jr.), Pieter Andries, (b3c8d6e3)  en die dogter van Willem, Maria Jacoba Swanepoel,   (b3c12d6e3)  as verlangse familie met mekaar getrou het.205” [1] Beide kom uit die  b3 lyn, maar is  minste darem  verskillend tot die c-geslag. In ander woorde, hulle was kleinneef en -niggie van mekaar.  Anders as Cooks beskou ek dit nie as “verlangse”  familie nie, maar daar is geen aanvaarde definisie van “verlangs” nie. Of hulle bewus was van hoe hulle by mekaar inpas, weet ek nie. Hulle het nie internetbome of FamilySearch gehad nie.  Mense was in die 1900s lief vir familie uitlê, maar of dit destyds die geval was, weet ons ook nie. 
Daar hou dit nie op nie. Bogenoemde  egpaar het 7 kinders: 

1. Maria Jacoba Swanepoel, bynaam Miemie (b3c8d6e3f4) trou met Gert Barend Hendrik Josephus Swanepoel, b7c2d8e7f3

2. Martha Aletta Swanepoel b3c8d6e3f6 trou met Hendrik Johannes Swanepoel b7c2d8e7f5 Die b3-lyn trou dus 2 maal met ander Swanepoels, genadiglik darem afstammend uit die b7 lyn, wat hulle verskillend maak tot by die eerste geslag na die stamvader. Dís darem verlangse familie in my persoonlike definisie.

3. Nog ‘n Willem Jacobus Swanepoel, bekend as Oom Boeta (b3c8d6e3f5) trou met Anna Maria Jacoba Hartzer. Sy was die suster van Willem Jacobus Hartzer.

4. Isabella Jacoba Swanepoel (b3c8d6e3f2) trou met Willem Jacobus Hartzer.

5. Sara Johanna Susanna, op sommige dokumente bekend as Sussara Susanna (b3c8d6e3f3), trou met William Henry Cooks.

6. Rachel Helletje Swanepoel (b3c8d6e3f7) trou met Cooks se broer, Andrew Peter.

Net no 7, Abraham Christoffel Johannes Swanepoel, b3c8d6e3f1 van die 7 kinders trou heeltemal buite die groep.

Nog is dit het einde niet. Willem Jacobus Swanepoel, b3c8d6e8f7, kleinseun van Abraham Christoffel Johannes Swanepoel, b3c8d6 en Susara Johanna Susanna Janse Van Vuuren, trou met ‘n Anna Petronella Maria Hartzer volgens ‘n Geni profiel. Dit raak nou te ingewikkeld en is nie verder ondersoek nie

Evaluasie

James Andrew Cooks,  kleinseun van Rachel Helletje  Cooks skryf in sy tesis: 

“Die impak wat introuery op genetiese siektes in families het, is gedeeltelik bekend en behoort verder nagevors te word. Die vraag word dikwels gevra of sodanige ondertrouery tussen familielede die oorsaak is dat sekere siektetoestande soos kanker, hoë bloeddruk, hartkwale, hoë cholesterol en porfirie in spesifieke families voorkom. Hoewel dit nie ‘n navorsingsdoelwit was nie, was dit opmerklik tydens die data-insameling dat siektetoestande soos hoë bloeddruk, suikersiekte en hoë cholestrol algemeen in die Swanepoel-familie voorkom.” [1]

Daar is ‘n wetenskaplik beskrewe verskynsel, die major histocompatibility complex (MHC). [2]. Dis ongelukkig ‘n baie tegniese konsep wat moeilik vir ‘n leek beskryfbaar is. Ek verstaan min daarvan. Kortom kom dit daarop neer dat die kinders van ouers met gene wat baie verskil, gesonder is. Algemene weerstand teen siektes en ‘n goeie immuniteitstelsel is die gevolg.

Navorsing dui daarop dat die uitsoek van maats met soortgelyke gene eintlik onnatuurlik is. Selfs ons primaat familie weet dit: “To avoid inbreeding, females, being the choosy sex, will often refuse to mate with related males. The males might be ok with mating with any female but if all the females are refusing them sex, then the males will run out of mating opportunities and will be rewarded for looking farther afield.” Asook: “Three sets of proof that female mate choice is involved with inbreeding avoidance; in Japanese macaques, females do not mate with their nephews and cousins (Ones related through females, that is; no one knows who is related through the males.) Male gorillas do not mate with their daughters, and female chimps avoid mating with their brothers. (Usually actually they're half-brothers)”. [3]. Die latere Lichtenburg Swanepoels is darem bietjie verwyderd, maar daar was nie veel sprake van “looking farther afield” nie.

Die verskynsel van intelingsvermyding is gemodifieer deur die migrasie-patrone van die Afrikaner en die onbeskikbaarheid van buite-familiêre maats. Die Afrikaner kom reeds uit ‘n beperkte Europese genepoel en die bydrae van Afrika en Asië is minder as 10%. Chris (CH) Swanepoel, in sy radioprogram spreek die mening uit dat gebeurtenisse of “rampe” die patroon wel versteur het en die fisiese nabyheid van familie verander het [4]. Een so ‘n gebeurtenis was die Groot Trek. Dit is wel so dat bv Abraham Christoffel Johannes Swanepoel, b3c8d6 en Willem Jacobus b3c12d6 aan verskillende trekke deelgeneem het. Albei eindig in Lichtenburg en is in ‘n sekere sin stamvaders van die lyn. My voeling, wat ek nog nie met ‘n skriftelike ontleding kan bewys nie, is dat my lyn van Swanepoels en naverwantes, soos in broers, saamgetrek het noorde toe as trekboere. Ek meen ook dat daar in die noorde nuwe groeperings ontstaan het wat wel verwyderd was van hulle Kaapse familie, maar dat die pakkette nog kleiner was en nog meer proksimiteit met nabye familie teweeggebring het. Die eerste ramp wat uiteindelik tot verspreiding (dispersal) gelei het was die AB-oorlog wat verstedeliking en aanraking met vreemder mense meegebring het. So trou Hester Margaretha Dorothea Hennop, later met ‘n Engelse myner en word Margaret Dorothy Wishart. Baie verarmde Afrikanermans word myners, soos ook Hester se broer Frederik. Die depressie was ook ‘n ramp wat verstedeliking bevorder het. So ook het die doelbewuste pogings tot die opheffing van die Afrikaner, gelei tot die beoefening van meer beroepe as net die van boer of myner, en dit meesal in ‘n stedelike omgewing. Baie het staatsamptenare geword wat voordurend verplaas is.

Van die oorlog gepraat, duisende vroue en kinders is in die ABO konsentrasie-kampe oorlede. Hulle is in haglike omstandighede aangehou, dis waar. Ek wonder of ingeteelde swak siekteweerstand nie ook ‘n rol gespeel het nie, want andersins was die mense eintlik gehard getemper deur die trekkerslewe. Dis nie bekend of daar van die Lichtenburglyn se mense in die oorlog self oorlede is nie, klaarblyklik nie, maar die volgende geslagte is nog nie goed beskryf, op Geni in elkgeval nie. Rachel Helletje Cooks sterf egter in 1906 op die jeugdige ouderdom van 29 nadat haar gesondheid ‘n knou weg het weens die oorlog.

Die ou mense het nie van die MHC geweet nie en hulle omstandighede moet in ag geneem word. Ons sit egter vandag met die gevolge van die grootskaalse ondertrouery wat ‘n bydraer op ‘n Facebook genealogiegroep as “scary” beskryf het. Dis nie beperk tot die Lichtenburg-lyne nie en Willem Jacobus b3c12d6 en Isabella Jacoba Bantjés se vorm van “hoerery” is darem in enige gemeenskap onaanvaarbaar!

Bronne:

1. Cooks, James Andrew. 2013. ʼn Genealogiese en historiese perspektief op ʼn gedeelte van die familie Swanepoel in Suid-Afrika (1698-1906) MA tesis, Noordwes-Universiteit. Gratis aflaaibaar by: https://dspace.nwu.ac.za/handle/10394/10163

2. Major histocompatibility complex and sexual selection. Available online: https://en.wikipedia.org/wiki/Major_histocompatibility_complex_and_.... Accessed on 2018-05-29

3. Kinship and dispersal. Available online: http://www-personal.umich.edu/~phyl/anthro/kindis.html. Accessed on 2018-05-29

4. Swanepoel, Chris. Uitspraak in program: Hoe verklaar jy dit? 29 April 2018. Gratis aflaaibaar by: http://www.rsg.co.za/Program-Potgooi/55/Hoe-verklaar-jy-dit. Gaan na 29 April en na aflaai, na minuut 8:27, alhoewel die hele eerste bydrae betrekking het op die kwessie van inteling. Chris Swanepoel is die outeur van ‘n tesis oor ‘n Swanepoelvertakking.

Inligting verskaf as Oop Toegang onderhewig aan lisensie CC BY-NC-ND 4.0 - Creative Commons https://creativecommons.org/licenses/by-nc-nd/4.0/legalcode

Kwytskelding: geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foutiewe of onakkurate inligting nie, hetsy aangehaal, herverpak of self geskryf.