Jan Cornelius Mentz

Is your surname Mentz?

Connect to 1,297 Mentz profiles on Geni

Share your family tree and photos with the people you know and love

  • Build your family tree online
  • Share photos and videos
  • Smart Matching™ technology
  • Free!

Jan Cornelius Mentz

Birthdate:
Birthplace: Dewetsdorp, Orange Free State, South Africa
Death: May 04, 1935 (80)
Waschbank, Smithfield, Orange Free State, South Africa
Immediate Family:

Son of Hendrik Mentz and Elizabeth Margaretha Christina Mentz
Husband of Anna Elizabeth Mentz, b4c1d1e5f2g5
Father of Hendrik Mentz; Anna Elizabeth (Lizzie) Coetzee; Jan de Klerk Mentz; Elizabeth M C "Daisy" Vermaak (Mentz) and Aletta Maria "Mos" Mentz
Brother of Veldkornet Nicolaas Johannes Mentz; David Joachim Mentz; Hester Jacoba Petronella Wepener; Johannes Hendrik Mentz; Pieter Christiaan Mentz and 1 other
Half brother of Hendrik Mentz; Anna Maria Elizabeth Jansen van Vuuren and Maria Johanna Christina Bekker

Occupation: Boer Waschbankm Ladybrand
Managed by: Nicolaas Jacobus "Nico" VERMAAK
Last Updated:

About Jan Cornelius Mentz



===Prisoners of War ABW == Added by AR Swanepoel

Database ID: 7380
POW Number: 8296
Surname: MENTZ
Name: JAN CORNELIS
Age: 43
Address: WASCHBANK
District: SMITHFIELD
Where Captured: FOURIESBURG
When Captured: 1900-07-30
Camp: DIYATALAWA
Country: CEYLON
Ship (to): DILWARA
Ship (from): N/A



Hieronder volg 'n paar notas oor my Oupa-grootjie Jan Cornelius Mentz. Soos julle wel sal sien is nie alles ewe relevant nie, maar ek het die goed gehoor of raakgelees en bewaar dit dus hiermee vir wie ookal in die toekoms daarin mag belangstel. Kommentare sal by vermaak@tiscali.co.za verwelkom word. Byvoegings sal ook welkom wees. Identifiseer asseblief jou byvoegings met 'n kontakadres sodat dit opgevolg kan word deur belangstellendes. Ek het ook inligting oor Ouma-grootjie [Anna Elizabeth "Bettie" Mentz (de Klerk)] se lewe in die Konsentrasiekamp onder haar profiel geplaas - Nicolaas Jacobus (Nico) Vermaak

Jan Cornelius Mentz is op 12 April 1855 (waarskynlik op die plaas Driekop dist Smithfield) gebore en op Smithfield gedoop op 4 Junie 1855. Soos uit die doopregister blyk (sien by Media) is hy as "Johannes Cornelis" gedoop - maar hy was altyd bekend as Jan Cornelius. (Toe sy kleinseun Jannie Vermaak wat na hom vernoem is jare later op Dewetsdorp begin skoolgaan wou een onderwyser nie glo dat sy volle name Jan Cornelius Vermaak was nie. Hy het beweer dat "Jan" net 'n noemnaam is en nie 'n volle naam kan wees nie!). Alhoewel Smithfield se gemeente reeds in 1848 gestig is, is die ou kerkgebou eers in 1862 ingewy en sou Jan dus nie in daardie kerk gedoop gewees het nie. Sy kinders is wel almal daar gedoop. (Vir die geskiedenis van daardie kerk en 'n foto van die formidale toring kyk by http://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Smithfield. - wat nie daar vertel word nie is dat die kerk in die middel van die 20e eeu gesloop is en vervang is met 'n siersteenkerk omdat, so is dit aan my vertel, die predikant van destyds, dit in sy kop gekry het dat die kerktoring gedreig het om inmekaar te val, en as dit tydens 'n diens sou gebeur sal dit waarskynlik tot lewensverlies ly. Die slopingsgedagte het die gemeente erg verdeel en Oom Stoffel Coetzee, Oupa Jan se dogter Lizzie se man, was aan die voorpunt van die behoudendes. Hy het selfs 'n interdik in die Hooggeregshof probeer kry teen die sloping van die kerk, maar nie geslaag nie. So word die kerk toe gesloop dat uiteindelik net die toring staan. En die slopers kry die toring nie om te val nie. Wat sou Oom Stoffel en sy ondersteuners gedink het toe die slopers einde ten laaste dinamiet moes inspan om die toring wat gedreig het om te val te sloop? - nou waar was ek in my storie oor Jan Mentz?

Jan se Moeder is oorlede in 1861 en sy Vader in 1870 toe Jan maar ongeveer 15 jaar oud was. Hy het Waschbank van sy Pa geerf maar was te jonk om alleen daar te gaan boer. Hy en sy jonger broer, Pieter, het toe vir 'n paar jaar gaan woon by hulle oudste broer Nicolaas Johannes - "die held van Acton Homes" - sien sy profiel vir 'n beskrywing van hoe hy in teenwoordigheid van sy seun gesneuwel het tydens die ABO. Ek is onseker of daardie verblyf in Smithfield was of in Heilbron waar die broer later gevestig het. Toe Jan bekwaam was om self te boer het sy Ouboet hom toegelaat om op Waschbank te gaan woon op voorwaarde dat hy sy jonger broer Pieter moes saamneem.

Jan het sy hele volwasse lewe lank op die plaas Waschbank tussen Dewetsdorp en Smithfield geboer en is op 4 Mei 1935 daar oorlede en begrawe.

In die Mentz Gedenkalbum deur Ds AP Smit vind ons die volgende: " Toe die Brandsiekwet (Ordonnansie No.3 van 1889) met die uitgang van die lagtiger jare van die vorige eeu eindelik op die Wetboek geplaas is, moes die staat inspekteurs aanstel wat in hul onderskeie distrikte vir die uitvoering daarvan moes sorg. Onder die eerste brandsiekinspekteurs tref ons die name van die volgende Mentze aan:

Jan C Mentz, van Wasbank; in Januarie 1890 aangeslel vir die wyk Wilgeboomspruil, distrik Caledonrivier (Goev. Courant No. 1722). .... Met die oog op die bekende vooroordeel en teenstand van die ou boere leen hierdie Brandsiekwet, kan ons aanneem dat hierdie Mentze (en hul kollegas) geen gemaklike taak op hul skouers geneem het nie. Maar as vooraanstaande en vooruitstrewende veeboere, het hul die noodsaaklikheid van so 'n wet ingesien en daarom kon hulle ook hul taak met die moed van hul oortuiging aanpak en deurvoer."

Toe Jan op ongeveer 28-jarige ouderdom die vrou-soek stadium van sy lewe bereik hoor hy van 'n aanvallige ongeveer 19-jarige nooi, Bettie de Klerk, van die plaas Hexrivier naby Ladybrand op die pad na Maseru. Hy besluit om te gaan kyk.

Soos mens vandag padlangs ry le Dewetsdorp en Ladybrand omtrent 100 Km van mekaar. Met 'n perd wat omtrent 10 Km per uur kan doen, en dan nie die hele dag aanmekaar nie, was dit dus 'n rit wat twee dae sou neem en weer twee dae terug huis toe - vergelykbaar met 'n motorrit Kaap toe en terug van Johannesburg af. 'n Man moes dus jou kyke kyk en klaarkry. Jy kon nie elke naweek vir maande aanmekaar gaan seker maak nie. En dit het hy gedoen.

Hy was duidelik in sy skik met wat hy die eerste slag gesien het, en sy ook, want daar was 'n tweede besoek 'n ruk later. Die derde keer toe Jan daar gaan "opsit" het, het hy ouers gevra, en met sy vierde besoek aan Ladybrand op 30 April 1883 het hulle bruilof gevier. 'n Afskrif van die Huwelikssertifikaat wat hulle albei onderteken het is onder die fotos by Media. Die huwelik het plaasgevind ongeveer 7 jaar voordat die swierige sandsteen-kerk op Ladybrand in gebruik geneem is, en waarskynlik in die klein geboutje waarvan 'n foto gesien kan word by http://www.ladybrand.gcehosting.com/www.ladybrand.info/Feesblad.html

Met die trouery agter die rug kon Jan weer aangaan met die boerdery.

Ses kinders is in die loop van die eerste ongeveer 10 jaar uit die huwelik gebore, drie seuns en drie dogters. Die tweede seun was Jan of "Baby" maar hy het net 21 dae geleef. Sy ma Bettie het nie genoeg melk gehad vir die baba nie, en soos dikwels destyds gedoen is het 'n vriendelike buurvrou wat ook 'n baba gehad het kom uithelp - daar was destyds geen poeiermelk vir babas nie. Daar breek toe ongelukkig kinkhoes uit onder die Samaritaan-vrou se kinders wat klein Jan toe aangesteek het en waaraan hy toe oorlede is. Sy kindergraffie is in Waschbank se begraafplaas.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 is Jan opgekommandeer en het hy aan die Slag van Stormberg deelgeneem. Johannes Meintjes se werk 'Stormberg - a Lost Opportunity' bevat 'n uitvoerige verslag oor daardie slag. Met die terugkeer van die kommando het hulle oor Waschbank getrek en het sy oudste seun Hendrik, toe ongeveer 17 jaar oud, by die kommando aangesluit en toe was pa en seun saam tot aan die einde van die oorlog. Hulle twee het op 30 Julie 1900 onder genl Prinsloo by Fouriesburg (Surrender Hill tussen Fouriesburg en Clarens) oorgegee en is van daar as krygsgevangenes via Durban op die skip Dilwara na Diyatalawa in Ceylon gestuur. 'n Kiekie van daardie oorgawe is by Media. Ek kon nog geen persoonlike briewe of geskrifte deur of aan hulle opspoor nie, maar 'n fototjie van hulle twee wat in Diyatalawa geneem is kort nadat Jan uit die hospitaal ontslaan is nadat hy vir maagkoors behandel is, is onder Media. Ek wonder baie of die twee Krygsgevangenes wat op die voorgrond sit en kyk na die rugbywedstryd tussen die Vrystaat en Transvaal op Diyatalawa en waarvan 'n foto in Media geplaas is dalk hulle twee kan wees wat eenkant sit en huis-toe verlang. Na vredesluiting het dit lank gevat voor hulle teruggekeer net want Hendrik het verseg om die gewraakte maar vereiste Eed van Getrouheid af te le. Uiteindelik het hy dit tog gedoen toe sy pa Jan om ernstig vermaan het: "Teken tog nou, want wat dink jy gaan jou Ma se as ek sonder jou op die plaas aankom?" Ek het in 2018 hulle ede of dan Verklarings opgespoor in die Vrystaatse Argief en plaas 'n foto daarvan onder Media. Let daarop dat Oupa Jan die dag voor Oom Hendrik geteken het.

Ouma Bettie en die ander vier kinders is onder dwang na die Bethulie konsentrasiekamp geneem. Ek sal meer oor hulle wedervaringe vertel by haar profiel. Net dit hier: Toe hulle groepie na Vredesluiting op die wa klim op pad terug huis toe het Ouma Bettie vir die kinders gese hulle is 'n baie geseende gesin om almal saam weer huis toe kon gaan.

So is die hele gesin dan weer na die Oorlog op Waschbank verenig. Die huis was erg verniel maar nie afgebrand nie. Onder die bome het hulle eetkamertafel gestaan met 'n dambord op die blad uitgekrap. Daardie tafel behoort tans aan Saartjie Fouche (Coetzee) op Stellenbosch, een van Jan en Bettie se oudste dogter Lizzie se kleindogters. 'n Foto van die tafel waarop die Dambordmerke nog steeds dofweg sigbaar is, is onder Media opgelaai. Saartjie is die skrywer van Perlemoen uit Droe Grond waarin 'n paar feite met fiksie oor die Oorlog en die konsentrasiekamp gevind kan word. Dalk is deel daarvan op daardie tefel geskryf? Haar broer Stoffel Coetzee is die skrywer van die bekroonde Op Soek na Mannetjies Mentz

Na die oorlog moes die kinders leer lees en skryf en somme maak maar die naaste skool was ver. Jan en Bettie bespreek die ding en besluit die enigste oplossing sal wees om vir die kinders 'n onderwyseres of goewernante uit die Kaap te laat kom. "Op een voorwaarde" het Bettie ingestem "jy bou eers vir ons 'n ordentlike 'lewwie' - ons kan nie van die fyn dame uit die Kaap verwag om soos ons maar populierbos toe te stap vir haar besigheid nie". En so kry Waschbank toe sy eerste kleinhuisie of "longdrop" so 'n beskaafde afstand van die agterdeur af. [Na ek die stukkie geskryf het het ek vir my Pa vertel dat ek dit gedoen het. Hy wys my toe daarop dat ek die die storie verkeerd het. Die longdrop wat so sy oorsprong gehad het was op Driekop, waar 'n neef of broer van Oupa Jan destyds geboer het, nie op Waschbank nie. Die Waschbank-kinders, Lizzie, Jan, Daisy en Mos kon blykbaar nie wag dat die perdekar op Driekop stilhou om die luuksheid van die lewwie te benut wanneer hulle daar gaan kuier het -letterlik reisies gehardloop om eerste te gaan sit! - Nou-ja so meng die feite in met wat ek geglo het 'n lekker familiestorie is.]

Die onderwyseres het toe opgedaag maar lyk my dit het nie lank gehou nie. Die oudste dogter Lizzie was later op Smithfield in die skool (daar is verwysing na haar mooi skoolrapport in Die Geskiedenis van Smithfield en die Caledondistrik deur A Prinsloo) maar Daisy het altyd gese sy was nooit in 'n regte skool nie, behalwe in die Konsentrasiekamp op Bethulie waar daar twee Skotse dames was wat vir hulle Engels geleer het en Engelse gedigte en liedjies wat sy tot op haar oudag tot groot vermaak van die kleinkinders pragtig met so 'n hoe stemmetjie vir ons gesing het. Haar ma het haar maar geleer om huis te hou en naaldwerk te doen. Daisy het egter later wel 'n onderwysopleiding by die Normaal Kollege in Bloemfontein gedoen en onderwyseres op Dewetsdorp geword waar sy vir Klaas Vermaak raakgeloop het. Meer daaroor in haar profiel. Haar kleinsussie Mos of Mossie het ook onderwyseres geword en was uiteindelik Hoof van die Huishoudkundeskool op Adelaide in die Oos-Kaap.

Waschbank was 'n gewilde kuierplek. Jan en Bettie se onderwyseresdogters Mos en Daisy met haar man Klaas Vermaak en hulle kinders Hennie, Jannie en Annette het gereeld deel van hulle skoolvakansies daar deurgebring. Dan het Lizzie en haar man Stoffel en hulle kinders Kobus, Alta en Dora van die buurplaas Vaalspruit en Die Hoogte af oorgekom om saam met Jan en Johanna en hulle kinders Jan, Hendrik, Dawid en Bettie wat op Waschbank geboer het en in die "nuwe" huis gebly het, heerlik gekuier en gespeel. En as die nageslag van Jan se broers wat op Mentzburg en Mayvilla ook nog bygekom het dan was die gejuig nog groter, so word ek vertel. Ek wens die kiekie van so 'n Waschbankkuier wat by Media opgelaai is was duideliker sodat mens die mense daarop kon identifiseer. Omtrent net Oom Stoffel Coetzee is heel links herkenbaar. Daar moet nog sulke fotos wees - dalk erens onder in 'n kas in 'n skoenboks. Stuur hulle asseblief.

view all 11

Jan Cornelius Mentz's Timeline

1855
April 12, 1855
Dewetsdorp, Orange Free State, South Africa
June 3, 1855
Smithfield, Orange Free State, South Africa

Die doopregister gee sy eerste naam foutiewelik aan as "Johannes".
Sy ma se tweede naam word ook foutiewelik as Maria aangegee en moet "Margaretha" lees

1884
April 8, 1884
Smithfield, OVS
1888
January 29, 1888
1890
March 30, 1890
Waschbank dist Dewetsdorp, OVS
1893
February 25, 1893
Waschbank, Smithfield, Vrystaat, South Africa
1896
August 24, 1896