Jacobus Swanepoel

Is your surname Swanepoel?

Connect to 16,232 Swanepoel profiles on Geni

Share your family tree and photos with the people you know and love

  • Build your family tree online
  • Share photos and videos
  • Smart Matching™ technology
  • Free!

About Jacobus Swanepoel

Jacobus Swanepoel - ~(Doop) - 1755-12-25 Added by AR Swanepoel

b6 Jacobus * “Nieuwmunster”, Land van Waveren ≈ Paarl 25.11.1725 boer vanaf 1752 tot 1763 op “Goedemoed”, wyk Agter-Kogmanskloof in die Koo, dist. Swellendam, keer as veeboer terug na “Poespasvallei” aan die Poessenelsrivier, wyk Middelbossiesveld, dist. Swellendam, vestig 1766 tot 1775 op “Rietvallei”, wyk Agter-Kogmanskloof, dist. Swellendam x Roodezand 13.10.1748 Susanna Catharina RABIE (b2) ≈ 12.12.1728 † “Poespasvallei”, wyk Middelbossiesveld, dist. Swellendam voor Feb.1764 d.v. Christiaan Rabie en Margaretha Pyl xx 21.9.1766 Francina VOSLOO † 11.4.1775 (wed. v. Hans Jurgen Gilber)

c4 Jacobus * “Goedemoed”, wyk Agter-Kogmanskloof in die Koo ≈ Roodezand 25.12.1755, verhuis as veeboer na dist. Graaff-Reinet. Word as ongetroud in die Opgaafrolle aangedui maar het agt buite-egtelike kinders uit twee verhoudings verwek Moeder v. d1 – d5: Elizabeth VAN DEVENTER v.d. Kaap

_______________________________________________________________

Notas deur David Abraham Swanepoel, direkte nasaat van 7 geslagte

Onderstaande is hoofsaaklik ligweg geredigeerde uittreksels uit bron 1 onder genoem. Laai af vir inligting oor die argiefverwysings.

Sy geboortejaar behoort redelik akkuraat te wees met sy doopdatum laat in 1755 (G 4/1/7/1: 34) [1].

Daar is vandag ‘n plaas Goedemoed sowat 10 km noordwes van Montagu, wat skynbaar eers as Agter-Kogmanskloof bekend gestaan het. Vanaf die Kaap gesien, is die Kogmanskloof “voor” Montagu. Die kloof verbind Montagu met Ashton in die Breëriviervallei. Dit pas in by die bewegings van die stamvader en Jacobus b6 sover, b6 het definitief op ‘n kol op ‘n Goedemoed oos van die huidige Montagu gewoon. Die plaas is by -33.7181207 19.8284977. Soos sy oudste seun David is Jacobus b6c4 se geboorteplek ‘n gasteplaas alhoewel net met 1 selfsorgeenheid. - DAS, 2020-06-20

Hy het in ‘n nie-maritale verhouding met Elizabeth van Deventer 5 kinders. In ‘n soortgelyke verhouding met Catharina Flink het hy 3 kinders. Bewyse dat hy amptelik met hulle in die huwelik bevestig was, kon egter nie deur AJ Swanepoel [2] opgespoor word nie. Al wat gesê kan word, is dat kinders van sy eerste metgesellin of lewensmaat almal gebore is voor dié van die tweede.

Nie een van sy 8 kinders is as babas ten doop gebring nie. Vier van hulle was reeds volwassenes en het waarskynlik self die inisiatief geneem, miskien om die pad oop te maak om formeel te trou. Die minderjarige kinders was ook nie meer babas nie.

Hy verskuif voor 1781 na die Sandvlakte. Sien sy seun David se inskrywing en hieronder. Daarna is hy teen 1787 egter baie verder, aan die Boesmansrivier.

'n Verdere noemenswaardige feit is dat hy nooit die kinders in sy opgaafrolle, noem nie, wat 'n aanduiding is dat hy nooit verantwoordelikheid vir hulle aanvaar het nie.

Sy broer Christiaan Swanepoel (b6c5) beskuldig hom in 1797 in 'n brief aan landdros Frans Bresler (KAB: 1/GR 12/1) in Graaff-Reinet, dat Jacobus (geskryf "Kowes") onderhandel het met 2 van sy Khoi werkers, in kontrak met homself, om in diens geneem word deur Jacobus [1].

Verdere inligting oor ‘n nie duidelik ge-identifiseerde Jacobus Swanepoel wat ‘n weduwee gedagvaar het, is te vinde in [1], verwysende na KAB: 1/GR 2: 205.

Op sy oudste seun David Swanepoel se sterfkennis word sy naam aangegee as Jacobus Johannes. “In ‘n Opgaafrol van ongeveer 1773, word die name van ‘n Pieter Swanepoel (b6c2) en ‘n Johannes Swanepoel direk onder Jacobus Swanepoel (b6) en Francina Vosloo se name aangegee. Dit het dikwels voorgekom dat volwasse seuns wat nog nie selfstandig geboer het nie, op hierdie wyse in die Opgaafrolle aangedui is. Pieter Swanepoel (b6c2) was in 1773 ongeveer 22 jaar oud, is volgens die Opgaafrol nog ongetroud en besit slegs 'n perd, 'n snaphaan, 'n degen en 'n pistool. Jacobus Swanepoel (b6) het egter nie 'n seun met die naam Johannes gehad nie. Dit is moontlik 'n skryffout in die Opgaafrol (KAB: J 317) en dit moet waarskynlik Jacobus Swanepoel (b6c4) wees, wat in 1773 18 jaar oud was. [1]

‘n Volgende verwysing na Jacobus Swanepoel junior (b6c4) kom voor in die Opgaafrolle vir Graaff-Reinet waarvan die datum by benadering bepaal is vir die jaar 1802. Hiervolgens woon Jacobus Swanepoel Jacobuszn in daardie jaar by Jacobus Swanepoel. Dit kan egter ook 'n skryffout wees, want in die jaar 1800 word daar vermeld dat Jacobus Swanepoel Jacobuszn by Jacobus van Heerden woon (KAB: J 118 & 119) [1].

Volgens die oudste seun David Swanepoel se sterfkennis is die in 1781 gebore op die Sandvlakte. Daar is vandag ‘n plaas met die naam in die distrik Willowmore. Met so ‘n persoonlikheid kan mens nie met sekerheid aanvaar dat hy by die geboorte teenwoordig sou wees nie, maar aan die anderkant wil dit darem lyk dat hy permanente verhoudings met die twee vroue een ná die ander gehad het.

CH Swanepoel [1] skryf ook: “Jacobus Swanepoel d'jonge was in 1788 reeds woonagtig op die plaas Welgelegen boven aan Boesmansrivier aan de roodekrans boven de wagendrif die verlate plaas van Johannes Marthinus Godfried Smalbergen.” (KAB: 1/GR 12/1: gp). Die bolope van die Boesmansrivier is gesetel in die huidige distrik Somerset-Oos (SG: 3324). Later vestig Jacobus Swanepoel (b6c4) hom op die plaas Sans Souci tussen die Sondags en Boesmansriviere en die berg (KAB: 1/GR 14/16: gp). Laasgenoemde plaas was waarskynlik geleë in die huidige distrik Alexandria waar die San Soucinatuurreservaat tans (2002) geleë is (SG: 3326).” Ek vind ongelukkig geen San Soucinatuurreservaat op Google (2017) nie, en Alexandria is weer meer wes.

Hy het dus nie soos die ander pal vorentoe beweeg nie. Dit wil darem voorkom of hy soms sy eie leenplase beset het. Adriaan Johannes Swanepoel, die tweede oudste seun, se een moontlike geboortedatum is 1790 iewers in die groot Uitenhage distrik. Ook al die ander kinders word as onder Uitenhage aangegee. Weereens weet ons nie of Jacobus b6c4 by die geboortes teenwoordig was nie. Die enigste wat gestel kan word is dat hy tussen die hedendaagse Willowmore en Somerset-Oos distrikte beweeg het tydens kinderverwekking.

CH Swanepoel se probleem met ‘n seun met die naam Johannes kan dalk verduidelik word met David Swanepoel se sterfkennis waarop die 2de naam van Johannes voorkom. Dit kom duidelik nie op sy eie dooprekord voor nie, sien transkripsie onder. ‘n MyHeritage profiel ge-Smartmatch met David Swanepoel meld ook ‘n Jacobus Johannes Swanepoel as vader, noemnaam Jan. Sy noemnaam soos bo genoem was egter Kowes. ‘n Skynbaar nou verwyderde profiel het sy sterfdatum as 1828 gehad, wat hom 83 sou maak, redelik aanvaarbaar, maar ons benodig bewyse.

Die profiel maak ook melding van ‘n kind Johannes Jacobus 'blou Koos' Swanepoel (vir b6c4). Geen genealoog het al met hom na vore gekom nie.

‘n Persoon waaroor daar baie onsekerhede is, maar een ding is seker, naamlik dat hy nie konvensioneel was nie.

Bronne:

1. Swanepoel, Christiaan Hendrik. 2003. 'n Tak van die Swanepoel-familie in Suid-Afrika, 1699 tot 1999: 'n genealogiese en kultuurhistoriese studie. MA tesis, Universiteit van Stellenbosch. Gratis aflaaibaar by: http://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/53526 . Sien veral Hoofstuk 2 vir meer inligting.

2. A.J. Swanepoel in medewerking met Aletta Maria Swanepoel. 1999. n Geslagregister van Swanepoel-families in Suid-Afrika. Pretoria: A.J. Swanepoel. CD uitgawe, 2015.

Kopiereg: CH Swanepoel by die Universiteit van Stellenbosch en AJ Swanepoel by laasgenoemde.

Kwytskelding: geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foutiewe of onakkurate inligting nie, hetsy aangehaal, herverpak of self geskryf.

____________________________________________________________

Transkripsie van sy dooprekord:

Jacobus Baptised: 1755, 25 Xbr Father: Jacobus Swanepoel Mother: Susanna Catharina Rabe Witnesses: Johannes Hendrik Conradi, en Rosa Swanepoel Source: Nederduits Gereformeerde Gemeente (NGK), Tulbagh, Baptism register, 1743 to 2 Feb 1800, page 34, entry number 64. Repository: NG Kerkargief, Noordwal-Wes, Stellenbosch, G4 7/1. Transcribed by Lynn Couperthwaite, Trysie Joubert, Richard Ball as part of the eGGSA Project, from VC 657, Cape Archives Repository

http://eggsa.org/cgi-bin/dosearchBaptisms.pl. Soek vir Jacobus Swanepoel ____________________________________________________________

Nota deur David Abraham Swanepoel

Kinderverwekking binne of buite die huwelik

Hierdie artikel maak geen waarde-oordele nie, dit probeer net ontleed.

Jan F.E. Celliers het dit in sy gedigte oor vroomheid:

  • “Vrome vad're fier en groot!” (Vryheidslied)
  • “Ek hou van ‘n man wat sy moeder eer / In die taal uit haar vrome mond geleer,...” (Trou)

Ons is ook op skool geleer van die vroomheid van die voorgeslagte en veral die Voortrekkers. Maar was dit so? Eerstens, wat is die definisie van vroomheid? Dit kan baie dinge beteken, maar dit gaan hier oor die antoniem van losbandigheid. Laat ons 'n ontleding doen daaroor met die kennis ingewin in die projek.

Daar was “levendig geslachtsverkeer” tussen blanke mans en slavinne [1]. Dit was min of meer ‘n gegewe nog al die jare. Daarna het dit omgesit na ‘n bepaalde vorm van konserwatisme en rassisme. Dis ‘n goeie vraag hoeveel kinders buite huwelike verwek is in die eeue voor die 20ste. Min is bekend. Ross se artikel dui op 10% (vir die bepaalde studie) [2].

Afstande was groot, die pad-infratruktuur byna nie bestaande en kerke ver uitmekaar. Kon mense kwalik geneem word dat hulle nie maar bloot bymekaar begin woon het nie en kinders begin verwek het nie? Daar was min ander afleiding, die lus kon nie bedwing word nie en voorbehoedmiddels was daar nie. Die voorneme om getrou aan mekaar te bly, was wel meesal daar. Wanneer daar dan dorp toe gegaan is, is getrou, gedoop, besigheid gedoen ens. Mens kan wel die stelling maak dat die “dringendheid” of “verpligting” van die 20ste eeu nie gegeld het nie, hierdie prosedures was nie prioriteit in die konteks en omstandighede van die tyd nie. Vanuit kerklike geledere het dit wel gegeld – maar die gemeentelede het gedoen wat prakties was.

In 1768 het sekunde JW Cloppenburg 'n reis deur die Swellendam-distrik onderneem tot in Outenikwaland en onder andere verslag gedoen oor die omstandighede van die veeboere wat hy op sy reis teegekom het. Hy was veral bekommerd oor die "verwildering van godsdienst, van obedientie en gevolgelijk van een goed gedrag, wat hy onder die veeboere aangetref het  [3].  Ons kyk hier  dus  na die breë begrip van vroomheid of gebrek daaraan. (Swanepoel  haal omtrent die laaste sin die volgende boek aan: Van der Walt, AJH et al.  Ongedateerd.  Geskiedenis van Suid-Afrika, Nasou Beperk: Kaapstad. p 96. Nie deur my gesien nie).

CH Swanepoel beweer daar was nie “algehele godsdienstige verwildering nie” [3]. Die stelling is ten opsigte van die Swanepoel-familie. Dit word in een geval weerspreek, deur die gedrag van Jacobus, b6c4 kleinseun van die stamvader. Hy is daarom gekies om hierdie artikel by aan te heg. Jacobus is gedoop in 1755. Hy was dus teen 1775 volwasse en hubaar. Dit was ruim na die eerste "wilde" 50 pioniersjare na die kolonisasie van die Kaap.

Ook Jacobus se seun Adriaan Johannes trou eers 2 maande na die geboorte van sy oudste, met sy kleinniggie, ook 'n Swanepoel. Hulle was in die omgewing van Uitenhage, maar dis moeilik om te bepaal wat die omstandighede vir reis was, maklik indien by die dorp, minder so hoe verder. Sy bewegings dui op tipiese trekboergedrag, dus was hy seker nie naby ‘n dorp voor die swangerskap nie. Hier is ons reeds in die 19de eeu.

Alida Cornelia Hennop word in in Januarie 1851 voorhuweliks gebore en is dus circa April 1850 al verwek). Jan Phillippus Carel Hennop word op 8 Augustus 1854 ook voorhuweliks gebore (en is dus circa Desember 1853 al verwek). Waar die stamouers se 9 maande en 4 dae 'n grensgeval kon wees, is hier geen twyfel nie. Die 2 persone se ouers het al in die bed gespring 5 jaar voor hulle huwelik en 2 kinders intussen in die lewe gebring. Alida Cornelia se data is nie volledig nie, maar genoegsaam. In die geval van Jan Phillippus Carel is daar klinkklare bewyse vir 'n 16 maande verskil tussen geboortedatum en sy ouers se troudatum. Sy sterfkennis, vorm vir die aangif van 'n sterfte (FID) en sy grafsteeninskripsie is in ooreenstemming sover dit die jaar betref. Die troudatum word met 'n afskrif van die huweliksertifikaat bevestig. Die jare 1850-55 is reeds in die tydperk waarin die vrome vadere veronderstel was om te leef.

Nog bietjie later is daar Willem Johannes Swanepoel, b3c1d4e6f8 en Dorothea Carolina Johanna Van Der Bank wie se oudste kind, voorhuweliks gebore word in 1872. Die huwelik was 4 maande na die geboorte. Die ouers se sterfplaas is in die omgewing van Laiingsburg, wat toe al “mak” wêreld was.

Dat wel van mense al die tyd verwag was om binne die eg kinders te verwek, spruit uit Ross se opmerking dat daar ‘n insentief was, om die doop uit te stel as die kind te vroeg verwek is. Is dit omdat die dominees dan nie sou weet wat in die binneland aangegaan het nie? Hulle was wel veronderstel om intussen dan 'n plan te gemaak het om tot trou te kom. Dan die verdere vraag, hoeveel “verwildering” was daar wel. Hoeveel Jacobusse Swanepoel en Coenrade Buys [4] en hulle vrouemaats was daar, wat glad nie by die samelewingsnorme gehou het nie? As mens Binckes [5 en 6] en Michener [7] moet glo, was daar baie. Michener se roman “The covenant” is histories wetenskaplik nagevors en die manuskrip toe steeds deur Uys in ‘n 50 bladsy dokument en met 7 hersienings gekorrigeer [8]. Binckes se roman “Canvas under the sky” is opgevolg deur ‘n boek wat die fiktiewe gebeurtenisse met dokumentere bewyse van sodanige voorvalle ondersteun. The Great Trek Uncut.

Ene Willem Jacobus Swanepoel b3c12d6 is in 1836 met Isabella Jacoba Bantjés getroud nadat hy goedkeuring van die staat gekry het [9]. Isabella was sy halfsuster se dogter. Volgens A.J. Swanepoel: “Kinders e1 tot e4 is volgens Beaufort-Wes se doopregister buite-egtelik gebore.” [10] Kom ons vergeet eers van die buite-egtelikheid, ons het hier te doen met “half-bloedskande”, waarop die staat maar hulle stempel moes plaas om die kinders legitiem te kry.

‘n Geval van volsibbe-bloedskande vind ons in die Swart-familie. SAG 12 noem ene “Philippina Lodewica Susanna Gertruida * c. 1818, vader: Jacobus Nicolaas Swart, broer v.d. Moeder” [11]. Bloedskande weens die patriargale stelsel in die Afrikaner is ‘n bekende, maar min bespreekte verskynsel. Daar is ander faktore by betrokke soos armoede en daar kan nie aangevoer word dat dit die norm was nie.

In die 20ste eeu verskyn daar romans waarin “voorkinders” voorkom. Dit is geset in die 19de en 20ste eeue. Dit was fiksie, maar moes gronde in die waarheid gehad het. Maria Kloppers, stigter van ‘n weeshuis, spesialiseer as te ware in verwerpte buite-egtelik verwekte Afrikanerbabas in die laat 1900s en die eerste deel van die 20ste eeu.

In opnames oor die handel en wandel van voorsate op Facebookgroepe, kom mense na vore met stories wat wissel van redelike mak onhebbelikheid tot ernstige wandade.

Buite FB, is ‘n voorbeeld van ‘n matige onhebbelikheid is oor ‘n radioprogram uitgesaai (Radio Suid-Afrika, Afrikaanse diens) in die 1970s. Die program was gemik op bejaardes. ‘n Ou man het ‘n brief ingestuur oor hoe hy en sy ouderdomsgenote meisies gaan afloer het wat kaal in ‘n spruit geswem het. Die meisies het weggehardloop om aan te trek. Ek kan nie onthou of dit net my verbeelding is nie, maar ek dink die mans of seuns het ook probeer om hulle te vang. Wat ook al die geval was, die briefskrywer het aan sy eie meisie gesê, dat hulle nou moet trou omdat hy haar kaal gesien het.

Die gebeurtenis was waarskynlik vroeg in die 20ste eeu. Die uitsaaidatum was teen die tyd toe daar van oormatige vroomheid en engheid begin afsien is. Nietemin het die storie my, in my eie piekhormoonjare, nogal geskok. Daarom dat ek dit vandag nog onthou!

DNA toetse laat ook vrae ontstaan oor vaderskap van mense oor die generasies. Greeff verskaf egter data (o.a. [12]) wat daarop dui dat daar in die Afrikanergemeenskap 'n lae voorkoms van nie-vaderskap in huwelike oor 3 eeue was. Dit beteken die vroue was oor die algemeen nie skuldig aan ontrouheid op kinderverwekkingsvlak nie. Maar daar is dalk steeds fluks agter die kraalmuur gevry!

‘n Opvatting van grootskaalse losbandigheid is oordrewe. Dat alles so vroom daaraan toegegaan het, soos ons op skool geleer het en Celliers gedink het, is definitief ook ver van die waarheid. Oor wat ek weet van menslike natuur, vermoed ek daar was geen verskil hoegenaamd oor die generasies nie.

Bronne:

1. Colenbrander, HT 1902. De afkomst der Boeren. Het Algemeen Nederlandsch Verbond: Amsterdam, p119

2. Ross, Robert. 1975. The “White” population of South Africa in the eighteenth century. Population Studies (Cambridge) 1975 Jul;29(2):217-30.

3. Swanepoel, Christiaan Hendrik. 2003. 'n Tak van die Swanepoel-familie in Suid-Afrika, 1699 tot 1999: 'n genealogiese en kultuurhistoriese studie. MA Tesis, Universiteit van Stellenbosch.

4. Anker, Willem. 2014. Buys: ‘n grensroman. Kaapstad: Kwela. Histories nagevorste roman, nagegaan deur 3 kenners.

5. Binckes, Robin. 2011. Canvas under the sky. Durban: 30 Degree South Publishers. Histories nagevorste roman, waarvan die bewysstukke gepubliseer is in [6].

6. Binckes, Robin. 2013. The Great Trek Uncut. Durban: 30 Degree South Publishers.

7. Michener, James. 1980. The Covenant. Random House 8.

8. Uys, Errol Lincoln. James A Michener’s Covenant: The Secret History of a Bestseller. Available online: http://erroluys.com/covenantassignment1.html. Accessed 18-03-17.

9. Cooks, James Andrew. 2013. ʼn Genealogiese en historiese perspektief op ʼn gedeelte van die familie Swanepoel in Suid-Afrika (1698-1906) MA tesis, Noordwes-Universiteit. Gratis aflaaibaar by: https://dspace.nwu.ac.za/handle/10394/10163. Sy aanhaling: KAB, Colonial Office (CO), 3959, 30, Part 1. Memorials received. Willem Jacobus Swanepoel. Permission to marry his niece, Isabella Jacoba Bantjés, starting 1836 ; Wits University Library, Manuscript, A7, J.G. Bantjés,1867-1910; KAB, CO, 3990, 41 part 1, Memorials received. Willem Jacobus Swanepoel. dispensation to enable him to marry Isabella Jacoba Bantjés, starting 1836 ending 1836.

10. A.J. Swanepoel in medewerking met Aletta Maria Swanepoel. 1999. n Geslagregister van Swanepoel-families in Suid-Afrika. Pretoria: A.J. Swanepoel. CD uitgawe, 2015.

11. SAG v12 So-Sz Die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika (GISA).

12. J M Greeff & J C Erasmus. 2015. Three hundred years of low non-paternity in a human population. Heredity volume 115, pages 396–404 doi:10.1038/hdy.2015.36

Inligting verskaf as Oop Toegang onderhewig aan lisensie CC BY-NC-ND 4.0 - Creative Commons https://creativecommons.org/licenses/by-nc-nd/4.0/legalcode

Kwytskelding: geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foutiewe of onakkurate inligting nie, hetsy aangehaal, herverpak of self geskryf.

_________________________________________________________

Gedagtes oor die gedrag en verhoudings van Jacobus Swanepoel in terme van Guelke, 1985.

Daar is groot meningsverskille oor die aard van lewe en seksuele verhoudings met Khoikhoi-vroue in die ou dae. Sommige mense ontken dit hewiglik, ander aanvaar dit. Die enigste formele huwelik tussen ‘n Khoikhoi vrou en blanke setlaar was die van Eva-Krotoa en Pieter van Meerhof. Alle ander was met vrygestelde oosterse slavinne.

Guelke [1] argumenteer as volg: “These different views of the frontier experience might lead one to conclude that there were two different frontiers at the Cape inhabited by two different kinds of European settler. Such a conclusion, it will be argued here, is essentially correct.”

“On the one hand, the frontier offered family settlers an opportunity of maintaining an independent way of life which was threatened by population growth and economic forces in the southwestern Cape. The settlers who availed themselves of this opportunity were drawn overwhelmingly from the middle ranks of the white community. On the other hand, the frontier offered opportunities for hunting, trading, robbery and sex and a life free of social constraints. These opportunities were seized largely by unattached single men with limited resources”. [1] Ek stem hiermee saam, want vandag kry jy steeds die tipe gedrag. Daar is ‘n dichotomie tussen konserwatiewe, Calvinistiese lewensuitkyke en die uitkyk van “ek laat my nie bind nie”. Natuurlik vind mens die drang na onafhanklikheid by beide, en soos bo met voorbeelde bewys, het die vermoedelik behoudende groep ook nie altyd by kerkwette gehou nie. Verder het ek gevra hoeveel mense hulle gedra het soos Coenraad Buys en soos beskryf in Binckes en Michener.

“Hunters, traders and stockmen would have been able to indulge in illicit sexual activity with Khoikhoi women without incurring the social disapprobation of their community provided they were sufficiently discreet. This kind of activity could also have taken place on the frontier farms of orthodox settlers. It seems likely, however, that most offspring of such casual sexual encounters would have been assimilated within the culture of their Khoikhoi mothers.

The fact that many of the offspring of European-Khoikhoi unions spoke Afrikaans and adopted European ways of living suggests that there were also reasonably stable male-dominated interracial common law marriages between European men and Khoikhoi women. The evidence on which one might establish this point, however, is largely indirect because the whites who had this kind of relationship with the Khoikhoi usually lived a fringe existence on the borders of the colony. Their actions would probably have escaped the observation of most travellers and would not have been recognized by officials and bureaucrats“ [1].

Hierdie paragrawe versterk die vermoede by my, dat daar nie in argiefrekords volledig rekenskap gegee word van die “offspring of European-Khoikhoi unions” nie. Die tipe samekomste mag meer wees as wat ons vermoed.

Daar is min bekend oor die kinders van Jacobus Swanepoel b6c4. [2]. Dit mag enersyds wees as gevolg van navorsing wat steeds nie gedoen is nie. Wie was Elizabeth van Deventer en Catharina Flink? Was hulle Khoikhoi of reeds die produk van ‘n paar generasies se bloedvermenging, synde hulle westerse vanne het? Tog word van hulle nasate as “hottentotte” geklassifiseer. Wat was die aard van Jacobus se verhouding met hulle? Kon hy nie trou weens samelewingsdruk omdat hulle nog as Khoikhoi beskou is? Het hy hom enigsins aan norme gesteur? Was sy verhouding ‘n “common law marriage” of het hy net sy saad gedeponeer? Enersyds erken hy nie sy kinders in sy opgaafrolle nie, maar andersyds is daar die patroon van eers kinders verwek by Elizabeth en daarna by Catharina. By watter “frontier community” was Jacobus?

Ons sal seker nooit weet nie. Selfs Guelke argumenteer in terme van “indirect evidence” maar indiepte navorsing mag dalk antwoorde gee.

Bronne:

1. Leonard Guelke, "The Making of Two Frontier Communities: Cape Colony in the Eighteenth Century." Historical Reflections/Reflexions Historiques 12:3 (1985), 419–48.

2. Swanepoel, Christiaan Hendrik. 2003. 'n Tak van die Swanepoel-familie in Suid-Afrika, 1699 tot 1999: 'n genealogiese en kultuurhistoriese studie. MA tesis, Universiteit van Stellenbosch. Gratis aflaaibaar by: http://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/53526 . Sien veral Hoofstuk 2 vir meer inligting.

Inligting verskaf as Oop Toegang onderhewig aan lisensie CC BY-NC-ND 4.0 - Creative Commons https://creativecommons.org/licenses/by-nc-nd/4.0/legalcode

Kwytskelding: geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foutiewe of onakkurate inligting nie, hetsy aangehaal, herverpak of self geskryf.

.

view all 15

Jacobus Swanepoel's Timeline

1755
December 25, 1755
Caep de Goede Hoop, South Africa
December 25, 1755
Land van Waveren, Cape of Good Hope, South Africa
December 25, 1755
Cape Colony, South Africa
December 25, 1755
Roodezand
1781
November 28, 1781
Sandvlakte,, Willowmore, Western District, EC, South Africa
November 29, 1781
Sandvlakte, Willowmore, Cape Colony
1783
1783
Dist, Uitenhage, Cape Colony, South Africa
1789
1789
1791
January 23, 1791
1799
March 22, 1799