Start My Family Tree Welcome to Geni, home of the world's largest family tree.
There are already 4,794 genealogy profiles with the Burger surname on Geni. Join now to find your relatives.

Burger Genealogy and Burger Family History Information

‹ Back to Surnames Index

Share

view all 4,794

Profiles

About the Burger surname

Barend Burger (Barent Burgert oorspronklik Berndt Burcherdt. In die Kompanjie se boeke kom die van voor as Bürghert, Burghart, Borhert, asook Barend Burgaart in 'n Politieke Raad notule van 18 Desember 1700. Later wysig die van tot Burgert en finaal tot Burger, soms Burgers.) Tydens die Hollandse bewind aan die Kaap het sowat 4000 Duitssprekendes, meestal enkellopende jong mans, in diens van die Kompanie, of as soldate, na die Kaap emigreer. Hulle het hier onder die bestaande bevolking van die tyd ingetrou. Hulle het van oral uit die Duitssprekende dele van Europa gekom. Baie Duitsers, veral dié uit die noorde van Duitsland, se huistaal, Laagduits (Plattdeutsch), was baie na aan die Nederlandse taal en kon hulle maklik inskakel by die Hollandse gemeenskap. Berndt is gebore in 1668 in Lübeck, Noordduitsland, onafhanklike hawestad naby Hamburg in Sleeswyk-Holstein. Hy word opgeteken as vrye smid in diens van die Kompanie van 1688 tot 1704. Op 31 Maart 1688 word Berndt aangekla weens oproerige gedrag! Barent Borgert word die eerste keer in 1690 in die opgaafrolle vermeld. Word 'n burger ongeveer 1690/1. Hy trou ongeveer 1690 met Maria of Marietje van der Merwe, dogter van Willem Schalkzoon van der Merwe en Elsje Cloete. In 1692 (J183 Stellenbosch) word hy vermeld as getroud met Maria Schalk en een kind (dogter) en waarskynlik woonagtig in Stellenbosch. Sy oudste bekende kind was egter 'n seun en sy vrou 'n dogter van Willem! Hy vestig hom teen 1693 in Drakenstein nog altyd met een kind, en word daar later kaptein van die burger-dragonders. In 1698 word hy vermeld met drie kinders.

Die plaas Dekkersvlei was op 6 Augustus 1692 toegestaan aan Herman Barend van der Schyff. Die Drakenberge was aan die suide en ooste, met die eiendomme van Jean Imbert ten weste en die heuwel aan die noordekant. Die oorspronklike erfbrief is in 1693 uitgereik. Berndt Burcherdt koop dit in 1695, oordrag geregistreer op 30 Oktober 1695. Hy verkoop die plaas in 1699 (Oordrag registrasie op 1 April 1699) aan Philippe des Prez, wat ook 'n swaer was van Schalk van der Merwe van De Hoop, asook 'n swaer van Jaques Therond van Minie. (Ons Drakensteinse Erfgrond, Klein Drakenstein, JG le Roux en WG le Roux, 2002, Versprei deur GISA, Posbus 3033, Matieland, 7602)

Die plaas Landskroon (Wyk Agter Paarl Distrik Drakenstein) is in 1691 toegesê aan 'n sekere Jan Holsmit, van wie niks verder bekend is nie. Dit is die volgende jaar opgemeet en behoorlik op Holsmit se naam geregistreer op 1692-09-17. In 1695 word dit oorgedra aan Gottfried Meyhuizen van Magdeburg, destyds in Brandenburg-Sakse 1695-12-05. Sy eiendom word verbeurd verklaar weens mishandeling van 'n slaaf, en Landskroon word verkoop aan Berndt Burcherdt, 'n swaer van Jan Schöpping van Hoogstede (x Jacoba vd Merwe). Oordrag registreer op 1697-08-29. Burcherdt se weduwee trou met Lambert Smit, vir wie sy oorleef en die plaas word uit haar boedel (MOOC 13/1/1, 26) verkoop aan Jan Meendert Cruywagen.

Die plaas Leeuwenjagt (Wyk Agter Paarl Distrik Drakenstein) se eerste eienaar was Johann Jacob Huber, algemeen bekend as Jan Hoboer, oordrag 1693-02-28. Hy was reeds in 1684 aan die Kaap en vermoedelik 'n Switser. Na sy dood in 1699 word die plaas die eiendom van Berndt Burcherdt. Hierdie plaas word ook uit sy weduwee se boedel, na sy Lambert Smit oorleef het, verkoop aan Theunis van Schalkwyk van Paarl Diamant.

Berndt Burcherdt was die dryfkrag agter die oprigting van die Drakenstein se meul. Hy is einde 1698 aangewys as een van die Heemrade van Drakenstein en was op daardie stadium ook eienaar van Leeuwenjagt in die Agter Paarl. Die distrikte Drakenstein en Stellenbosch het elk sy eie Heemrade gehad, maar as besparingsmaatreël het hulle dieselfde landdros gedeel. Die landdros was 'n betaalde amptenaar, maar Heemrade was vooraanstaande burgers wat deur die Goewerneur aangewys is om sonder vergoeding die belange van die inwoners van 'n bepaalde distrik te behartig. Hulle moes, onder andere, geskille tussen inwoners probeer skik en aanbevelings daaroor an die “Collegie van Landdrost en Heemraden van Stellenbosch en Drakenstein” doen.

Die Kompanie het an die “Collegie” 3000 gulde teen ses persent rente geleen vir die bou van 'n meul. Heemraad Burcherdt is in Januarie 1699 deur die “Collegie” aangewys as kollektant, wat beteken dat hy die werk sou organiseer, uitgawes magtig en maalfooie invorder. Die meul sou gebou word langs 'n standhoudende waterstroom op die onbeboude deel van Jacobus van der Heiden se plaas teen die hang van die Paarlberg. Bouwerk het in Februarie 1699 begin en die terrein was gou 'n miernes van bedrywighede. Hout is aangery van Houtbaai en Paradys, die blyplek van baashoutkapper Jan Vosloo (vgl Vosloo & Fechter van Knysna). Karweiers, klipkappers, messelaar, smid, dekker (dak), is aangestel, en voedsel en verblyf en organiseer. Die eerste meel is in November 1700 gemaal. Die meulwiel was baie groot. Die speke was elk so lank dat hulle die nok van 'n dubbelverdieping huis kon bereik van die grond af. Die water is met 'n hout geut op stelte tot bo-op die wiel gelig. Die plaas waarop die meul gebou was, is op 22 Februarie 1702 deur Burcherdt gekoop. Op die oordrag word duidelik vermeld dat die grond waarop die meul geleë is van die plaas afgetrek moet word, maar dit is eers in 1807 gedoen.

Goewerneur WA van der Stel was ontevrede dat Barend Burchard alleen die meul se sake bedryf het, en gelas dat dit jaarliks op 'n rotasie basis onder die heemrade sal wissel. (Brief 24 Mei 1703). Met sy uittrede as Heemraad oorhandig Burcherdt op 15 Desember 1702 sy boeke aan die Landdros en Heemrade. Sy totale uitgawe om die meul te bou en tot op die datum te bedryf was 5005 gulde en 8 stuiwers, en sy inkomste meer as 2458 gulde. Behalwe vir die skuld van 3000 gulde aan die kompanie waarop die rente betaal is, was daar nog 452 gulde en 12 stuiwers in die kas oor. Burcherdt is in 1705 oorlede. Die inventaris van sy boedel is gedateer 5 Okt 1705 (MOOC 8/2, 3). Die plaas waarop die meul geleë is word in Burcherdt se boedelinventaris Koringmeul genoem. Sy weduwee Maria trou toe in 1706 met Lambert Smit. Indertyd was dit die gebruik dat die vaste eiendom van 'n weduwee met haar hertroue oorgaan op die naam van haar nuwe man. Lambert Smit verkoop die plaas in 1709 aan Guillaume Loree. Loree noem die plaas Nantes na sy plek van herkoms. (JG le Roux, Drakenstein se Meul, 2002, Versprei deur GISA, Posbus 3033, Matieland, 7602). Lambert Smit is oorlede voor sy vrou.

Marritje Schalks Willemsdr (van der Merwe) is oorlede c 1709, sy word vermeld as oorlede in Johannes Bocklenbergh se boedelrekening gedateer 15 Oktober 1709. Die vroegste datum in haar eie rekening is Februarie 1710 (MOOC 13/1/1, 26)

Uit die notule van die Politieke Raad: “Saturdag den 18n December ao. 1700. Present d' Ede.Hr.Gouverneur et omnibus, dempto dencassier Henricus Munkerus.....

Staande de vergaderinge, soo zijn op de ingebragte nominatie van de respective kerckelijke als andere collegien, na de jaarlijkse gewoonte, , in plaatse van de afgaande leeden weder nieuwe geëligeerd geworden, excepto van de civiele kleijne saaken dewelke voor dezen jaare werden gecontinueert, te weten:....... In 't collegie van heemraaden aan Drakensteijn is Barend Burgaart [6] als heemraad gecontinueert”

In Augustus 1705 word deur die heemraad van Stellenbosch en Drakenstein gemeld dat " ten huizen van die kassier Saliger Barent Burgert van Drakenstein die Colonies Cassa opgenomen is" 'n Mens kan dus aflei dat hy reeds op die stadium oorlede was.

[6] Sien handtekening in C.J.2872: Contractenboek, 1694-1698, no. 54 en C.J.2873: Contractenboek, 1698-1 703, nos. 154 en 204. In die Kompanjie se boeke kom die van voor as Bürghert, Burghart, Borhert. Later is dit gewysig tot Burgert en Burger. In die kontrak van 31 Maart 1695 word Barent Burghert vrysmit genoem. In die kontrak van 16 April 1700 soek hy na 'n kneg wat hom in Drakenstein kan dien as Molenaar, terwyl hy in die kontrak van 29 Augustus 1701 'n kneg “als moolenschrijver” aanneem. Volgens sy handtekening Berndt Borherdt. Verwysing: C. 24, pp. 44-49.